top of page

Radikale tevredenheid bring vir ons hartsvrede

  • Roedolf Botha
  • 2 days ago
  • 3 min read

God is goed en Sy goedheid is oorweldigend. Dis waarom tevredenheid met wat ons het een van die grootste beginsels in Paulus se lewe was (Fil 4:11). Hy moes leer om tevrede te wees. Daarom is tevredenheid ook een van die belangrikste geestelike vermoëns, wat ons elkeen moet aanleer om gelukkig te kan wees. Dit sê ek, terwyl ek terdeë besef dat daar mense is wat werklik uiters min besit en elke dag moet swoeg om bloot te oorleef. Dit is egter vreemd dat dit juis by hierdie mense is wat ek leer om tevrede te wees. Die mees inspirerende voorbeelde van tevredenheid vind ek juis nie in die ryk voorstedelike gebiede van Pretoria-Oos nie, maar in relatief arm, informele nedersettings, soos Diepsloot, Zandspruit, Ivory Park of Tembisa.


‘n Paar aande gelede tref hierdie geestelike waarheid my soos ‘n meteoriet, toe ek die fliek The Inheritance kyk. Die prent is gebaseer op die boek van Louisa May Alcott, wat ook verantwoordelik was vir die gewilde Little Women. The Inheritance handel oor ‘n weeskind, Edith, wat deur ‘n ryk familie in Brittanje gedurende die vroeë 1800’s aangeneem word. Hierdie familie was baie goed vir haar. Haar aangenome ma en pa het haar hanteer soos hulle eie kind, alhoewel sy, soos dit in daardie jare maar die geval was, het nie in die samelewing die aansien geniet het wat sy graag sou wou hê nie. Sy is maar steeds voortdurend deur ander mense as ‘n weeskind, wat geen bruidskat kon bied vir ‘n aanstaande man nie, gesien. Eendag ontdek Edith egter briewe en dokumente, wat aantoon dat sy eintlik die enigste oorblywende kind en erfgenaam van ‘n ryk broer van haar aangenome pa is! Niemand het dit geweet nie, omdat haar eie pa in Indié oorlede is, terwyl sy nog ‘n babatjie was. Die mense, wat haar ontdek het, het gedink dat sy een van die slawekinders was. Edith doen toe egter iets skokkends: Sy vertel vir niemand hiervan nie en gooi al die bewyse van haar herkoms en rykdom in die vuur en verbrand dit! Of só het sy gedink. ‘n Dienskneg het, nadat sy uit die kamer is, die dokumente uit die vuur gered en vir die ma van die familie geneem. Haar ma was verstom om te hoor dat Edith die dokumente probeer vernietig het en wou weet waarom sy dit wou doen. Hierop antwoord Edith baie hartroerend:


“Don’t you see? I already have everything I wanted: I have your love and your confidence. And I have my home with you, which is more that I could ever dream of ... and I was afraid that the money could change things.”

Hoeveel insig is daar nie in hierdie woorde nie! Sy het niks meer nodig gehad as die liefde van haar aangenome ouers en familie nie. Trouens, sy was bang dat haar finansiële onafhanklikheid haar moontlik sou kon skei van haar aangenome familie, en dalk verhoudings kon vertroebel. Sy was slegs geïnteresseerd in haar menseverhoudings. Dít was waar haar skat was. Meer as dit sou eintlik net lastig wees! Trouens, die geld sou dinge net opfoeter - so het sy gedink.


Ons weet dat dit nie noodwendig ongesond is om ryk te wees nie. Ons weet egter ook goed dat geld ons vandag so onafhanklik maak van mekaar dat ons verhoudings maklik afskeep of selfs afskryf. Ons kan mos op ons eie regkom. Ons het mekaar mos nie werklik nodig nie. So dink ons. Geld kan dus in die pad staan van verhoudings en dikwels doen dit.


Maar om ons skat in ons verhoudingsverbintenisse te vind, dis waar heling en gesondheid lê. Om te weet dat ons geliefd is deur die Here en deur Sy mense met wie ons saamleef. Ons het ‘n liefdevolle God en geestelike familie, wat ons aangeneem het. Vind dus God se familie, wat jou aanvaar en liefhet met die kruisliefde van Jesus. Wees tevrede daarmee, régtig tevrede.


Dís die padkaart na ‘n vol lewe.


Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page