top of page

Raak makliker om mee saam te leef

  • Stephan Joubert
  • May 2
  • 1 min read

Updated: May 7

Teks: Titus 3:2


As godsdiens jou moeiliker maak om mee saam te leef, dan mis jy die punt. As dit jou kwaai en krities maak teenoor mense, wat nie soos jy glo of dink nie, mis jy die punt. As jy boonop dink jou vroomheid gee aan jou ‘n lisensie om ongenooid in ander mense se lewens in te storm en vir hulle te sê net wat jy wil, is jy uit pas met die Woord. Jou godsdienstigheid laat jou nie vrou-alleen en man-alleen en mens-alleen op die morele hoëgrond rondstaan, terwyl jy neerkyk op almal, wat nie presies soos jy leef nie. Jou vroomheid plaas jou ook nie in geestelike kwarantyn sodat jy nie meer weet wat in die wêreld aangaan nie. As dit met jou gebeur dat jou godsdiens jou isoleer en moeiliker maak om oor die weg mee te kom, is dit hoogtyd dat jy uit die godsdienstige intensiewe eenheid ontsnap. 


Laat jou woorde sagter raak. Laat jou dade meer liefdevol wees, omdat jy agter Jesus as Heer aanstap. Maak jou volgafstand kleiner. Loop naby genoeg aan die Man van Nasaret. Loop só naby dat Sy stof gedurig op jou eie voete val. Loop naby genoeg aan die Here sodat Sy liefde vir God en mense afgee op jou hart, jou gedagtes, jou woorde, jou dade, jou ganse menswees. Dan verander jy al hoe meer. Dan loop jy al hoe meer in die regte Rigting. Dan volg jy Jesus tot daar tussen al Sy gunsteling mense, wat vandag hemelse brood en water benodig.


Gebed:

Here, gee dat ek naby genoeg aan U loop. Laat my lewe U heerlikheid elke dag weerspieël.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page