top of page

Psalm 119 is ’n lewensredder op baie maniere

  • Stephan Joubert
  • 19 hours ago
  • 2 min read

Teks: Psalm 119:105


Daar is twee Engelse kerkleiers met dieselfde naam, naamlik George Wishart. Hulle het onderskeidelik geleef tussen 1513-1546 en 1599-1671. Beide het in groot moeilikheid beland as gevolg van hul geloof. Die eerste George het die leringe van Calvyn en Luther nagevolg. Hy is in St Andrews, Skotland tereggestel. Die tweede George Wishart het later as biskop van St Andrews gedien. As gevolg van sy militêre betrokkenheid is hy tot die dood veroordeel. In daardie tyd was dit gebruiklik dat mense, wat in die publiek tereggestel is, ’n psalm kon kies wat eers gesing moes word. Toe kies Wishart Psalm 119. Nog voordat twee derdes van hierdie lang psalm deurgesing is, het ’n vryskeldingsbrief opgedaag. Sy lewe is gespaar.


Psalm 119 is op baie ander maniere ook ’n lewensredder. Hierdie Psalm is in 22 eenhede van 8 verse elk ingedeel, wat telkens deur ’n opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet ingelei word. Elke vers in hierdie psalm laat val die soeklig op God se woord en op Sy wet. Hierdie einste woord van God gee koers vir jongmense (vers 9). Dit bring lewe en vreugde vir elkeen wat dit gehoorsaam (vers 14-16). Dit bied troos in swaarkry (vers 50). Dit bring geloofsvertroue (vers 5), insig (vers 97-104) en standvastigheid op die Here se pad (vers 105). Psalm 119 nooi ons op soveel maniere uit om vir God se woord en vir Sy voorskrifte lief te wees. Dit is soos heuning in ons mond (vers 103). Proe dit opnuut en leef!


Gebed:

Here, U woord is die lig vir my pad. Dit wys my hoe om te leef. Leer my om op hierdie pad te volhard.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page