Pieng-verslaafde generasie?
- Alet Gardner
- 18 hours ago
- 2 min read
So tydens die afgelope feesseisoen word ek deur my milleniërkinders ingelig dat die boomers foon- en sosiale media verslaafdes is. Natuurlik onthuts het ek die verskoning dat ekself sensitief daarvoor is om nie sommer my foon in geselskap te gebruik nie en ook nie my hele lewe op sosiale media met die wye wêreld deel nie. MAAR hoeveel gesinne van elke generasie, wat ‘n selfoon het, sit rondom ‘n restauranttafel, elk op sy / haar eie foon. Elk besig op verskillende sosiale mediaplatforms?! Ons is besig om te verleer wat dit is om gesellig om ‘n tafel te verkeer. Die ouers is net so skuldig (of meer) as die tieners / adolessente!
Die heel ergste is dat ons verleer wat ‘n gesprek met God is. Ek het al myself betrap dat die pieng! van my selfoon my aandag aflei van die belangrike gesprek wat my hemelse Vader met my wil voer. Dit gebeur so maklik dat ek sit en stiltetyd hou, die foon besig om buite my bereik te laai, net om op te vlieg sodat ek kan sien wie na my soek. Natuurlik is dit niks belangrik nie – weer een of ander groepie met ‘n sommer-net-opmerking of lawwe video.
En hier sit ek tydens die belangrikste afspraak van my dag en ek kan nie (wil nie?) op Hom fokus nie. Ek lees Psalm 15: “Wie het die reg om in u woonplek te kom, Here? Wie mag op u heilige berg vertoef?” (1983 Vertaling) en ek besef as ek my aan die vereistes van hierdie Psalm meet, skiet ek hopeloos ver te kort. Ek het my oë afgehaal van Hom, wat my so liefgehad het dat Hy Sy lewe vir my afgelê het. Is ek regtig besig om God te dien met my hele hart en met ‘n gewillige verstand? (1 Kronieke 28:9) Hy het my gekies vir Sy dienswerk, om gereed en toegerus te wees om my naaste te gaan liefhê, dien en opbou.
Wanneer ek dus hierdie dag ingaan, wil ek sensitief vir my naaste en naastes wees wat met my wil gesels, sensitief om te hoor wanneer die Here met my wil praat. Ek wil nie met elke pieng na my foon gryp asof dit ‘n noodroep is wat onmiddellik moet aandag kry nie. Ek wil daarteen waak om nie die boodskap deur te gee dat wat op my foon aangaan, belangriker is as die persoon wat voor my staan of teenoor my sit nie. Ek wil uitreik en waarlik kommunikeer sodat ek in die verhoudings met my medereisigers kan groei.




Comments