top of page

Ontdek Jesus se soort relevansie

  • Stephan Joubert
  • Jul 21
  • 1 min read

Is die kerk slegs relevant wanneer dit met ’n antwoord op elke nuwe vraag regstaan? Of wanneer dit gedurig preek en praat oor die jongste krisisse in die samelewing? Dalk nie. Sulke relevansie is meestal reaktief. Dit reageer net op die nuutste probleme. Die regte soort relevansie gaan oor meer as standpunte oor die nuutste sake van die dag. 


Bybelse relevansie het ’n tydlose kant, soos wat Jesus self vir ons wys. Dit wat vir God saakmaak, is Jesus se relevansieroete. Dit sien ons byvoorbeeld in Lukas 13:1-9 wat vertel van twee nuuswaardige gebeurtenisse. Pontius Pilatus het ‘n klompie Galileërs vermoor en die Siloamtoring het inmekaargestort. Dit het 18 mense se dood veroorsaak. Jesus lewer egter geen “relevante” nuuskommentaar op hierdie rampe nie. In ‘n gelykenis verskuif Hy eerder Sy nuuskierige aanhoorders se aandag na God se nuwe wingerd toe. Meteens val die fokus op hulle eie lewens. Nou is hulle nie slegs passiewe toeskouers, wat godsdienstige kommentaar wil hoor oor die nuutste krisisse van hulle dag nie. Nou is hulle betrokkenes in God se uitdagende verhaal. Nou is hulle aangespreektes, wat hulle eie lewens voor God in oënskou moet neem. 


Ons is nie relevant as ons slegs op hoogte is met die nuutste nuus van die dag, of as ons ‘n opinie daaroor huldig nie. Ons is regtig relevant, wanneer onsself voor God aanspreeklik is. Ons is relevant wanneer ons aanmeld om dinge vir ander beter te maak. Ons is relevant wanneer ons onsself insluit in die antwoord op ons eie gebede dat God se koninkryk hier op aarde moet aanbreek.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page