Ons kort Jetro se insig en Moses se leerbaarheid
- Stephan Joubert
- 20 hours ago
- 2 min read
Teks: Eksodus 18:18
Die bekroonde Amerikaanse joernalis, Ellen Goodman, vertel een keer in ‘n rubriek van iemand wat homself doodgewerk het. Ses dae per week was hy vasgekluister in sy kantoor vasgekluister. Toe beëindig ’n trombose sy lewe op 51-jarige ouderdom. By die begrafnis sê iemand vir sy vrou: “I know how much you will miss him.” Toe antwoord sy: “Oh, I already have.” Hy was lankal ’n “Lone Ranger”.
Ons is nie veronderstel om een-alleen deur die lewe te gaan nie. Prediker 4 leer ons twee mense vaar beter as een. Dit geld op alle terreine van die lewe. Op ons eie is ons nie die antwoord op elke krisis, vraag, of probleem nie. Ons benodig mekaar se geselskap, liefde, ondersteuning en beskerming. Saam-saam is ons net meer effektief. Dit is presies die les wat Jetro vir sy skoonseun Moses kom leer het in Eksodus 18. Hy het opgemerk hoe Moses homself stokflou op sy eie werk. Toe leer hy vir Moses om nog leiers aan te stel om ‘n klomp werk uit sy hande te vat. Genadiglik het Moses na hom geluister. Daarom het hyself verskuif vanaf ’n uitgebrande leier na ’n effektiewe leier.
Ons almal kort Jetro se insig en Moses se leerbaarheid. Ons moet besef ons het ander mense nodig. Ons benodig hulle insigte en hulle hulp, maar hulle kort ook ons s’n. As ons bereid is om die lewe saam met mekaar te doen, raak ons meer effektief. Dan leef ons binne God se plan vir ons lewe.
Gebed: Leer my om daar te wees vir ander mense. Leer my ook om ander mense se rol in my eie lewe te waardeer.




Comments