top of page

Nie sieldodend nie, maar lewegewend

  • Stephan Joubert
  • 12 hours ago
  • 2 min read

Ben Hecht (1894-1964) was op sy dag ‘n bekende skrywer en regisseur in Hollywood-kringe. In sy outobiografie vertel hy dat dit ’n groot ontnugtering vir hom was om te besef baie bekendes hul sukses op die feit skoei dat hulle nooit hulleself was nie. Hulle sukses was geleë in verskillende rolle wat hulle vertolk het. Hulleself was egter brandarm wat hul eie karakter betref. In Hecht se eie woorde: “They had borrowed identity from the world and not out of their own souls.”  


Om ‘n lewe te bou op kunsmatige dinge, soos geldelike suksesse, ‘n groot sosiale mediaprofiel, of bekendheid, is sieldodend. Ware grootheid in God se oë is om in die lewens van ander te belê. Dit is om dag in en dag uit daarmee besig te wees, soos een Kaapse skoolhoof by ‘n skool waar eKerk ook betrokke is. Toe my vrou onlangs daar besoek aflê, vertel die hoof haar van al die hartseer en armoede wat deur dwelmmisbruik en misdaad in hulle gemeenskap veroorsaak word. Hyself swem ook dag vir dag stroomop. Hy vertel toe hoe die Here hom party nagte wakker maak, dan ry hy skool toe en gaan bid daar vir al die kinders. Hy en sy span deel ook weekliks kos uit en hulle maak seker dat kindertjies naweke kos kan huis toe vat omdat daar dan niks te ete is nie. 


Toe my vrou groet, sê die skoolhoof vir haar hy wil graag ook eendag voltyds vir die Here werk. Sy sê toe vir hom: “Meneer, jy doen reeds! Jy doen dit meer as wat jy ooit sal besef.” Dít is ware grootheid voor God. Dit is nie sieldodend nie, maar lewegewend!

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page