‘n Ontmoetingsplek met God
- Alet Gardner
- 12 minutes ago
- 2 min read
Die voorreg van ‘n lewe, wat iets weerspieël van ‘n ontmoetingsplek met God, die hele jaar deur - dít is die ideaal en hierdie ideaal begin by die tyd, wat ek alleen in Sy teenwoordigheid deurbring.
Stiltetyd is die wonderlike voorreg van alleentyd aan die voete van my Vader, op uitnodiging van Jesus self. Dis hier waar Hy Sy Woord vir my oopbreek, waar ek Hom beter leer ken. Dis hier waar ek kan luister na die sagte stem van die Heilige Gees, herinner word aan die woorde, die liefde van Jesus. Waar ek herinner word aan die onbeskryflike voorreg van om God my Vader te mag noem.
Hierdie tyd saam met Hom is ‘n toevlugsoord, waar ek my skanse kan laat sak, my diepste vrese en twyfel aan Sy voete kan kom neersit. Dis waar Hy deur Sy Woord, die Bybel, my lei na antwoorde, troos en bemoediging vir die pad vorentoe. Dis waar ek my vreugde met Hom kan deel, Hom kan loof en dank vir Sy voorsiening, vir die voorregte wat ek daagliks het, vir die bederftye, waar Hy vir my meer gee as waarvoor ek kan bid of dink.
Wat daar gebeur, is, soos wat St. Richard of Chichester dit so mooi stel: “God challenging me afresh, and inviting me to know [Him] more clearly, love [Him] more dearly, and follow [Him] more nearly, day by day.”
‘n Egpaar of jarelange vriende “weerkaats” naderhand mekaar se maniërismes. Hoe meer tyd ek in gebed en Bybelstudie saam met Hom spandeer, hoe meer word ek Jesus-gelykvormig. Dis waar Hy my verstand vernuwe, vir my deur Sy Woord en Sy Gees, Sy manier van dink en doen leer. Dan word my lewe toenemend ‘n weerspieëling van Sy heerlikheid, Sy liefde en Sy genade.
In hierdie alleentyd met Hom gebruik Hy Sy Woord om vir my nie net Bybelgeskiedenis te leer nie, maar om vir my antwoorde of riglyne te gee vir lewensituasies, waarin ek is. As daar struweling in ‘n nabye verhouding is, herinner die Here my in Filippense 2:3-4 daaraan om nie selfsugtig te wees nie, maar om Jesus se onselfsugtige, onvoorwaardelike liefde te gee. Wanneer ek besorg is oor finansies, gee Paulus in Filippense 4:6-7 ‘n beter oplossing: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.” Wanneer ek leeggetap voel en kom stil word by Hom, herinner Hy my aan Elia, wat toe hy dit nodig gehad het, ‘n ontmoeting met God gehad het, waar Hy hom geantwoord het deur “’n fluitsering in die windstilte.” (I Kon. 19:12 AFR83) Die Life Application Bible beskryf hierdie inspraak in ‘n soekende hart as “whispering gently in the quietness of a humble heart”. So kan ek antwoorde op eintlik elke vraag of oomblik van twyfel in my Bybel kry. Die Here is getrou en openbaar iets van Sy wysheid aan my, wanneer ek in nederige afhanklikheid aan Sy voete kom stil word.
So word my lewe algaande ‘n plek waar ander iets van die Here se liefde en genade, Sy wysheid en voorsiening raaksien en self geïnspireer word om Sy teenwoordigheid op ‘n gereelde basis op te soek.




Comments