Moenie net dankbaar wees nie, wees ook vrygewig
- Stephan Joubert
- Sep 26
- 2 min read
Teks: Handelinge 20:34
“Gaan kyk ’n slag hoe krap mense in asblikke rond vir kos. Dan sal jy dankbaar wees vir dit wat jy het.” Ken jy sulke opmerkings? Word ander mense se slegte omstandighede gedurig gebruik as motivering hoekom jy jou eie seëninge moet tel?
Nou ja, dit is ‘n feit dat baie mense op die planeet swaarder kry as jyself kry, maar die Bybel gebruik nooit ander se omstandighede om jou dankbaarder te maak nie. God se Woord volg ’n ander roete. Die vraag van die Bybel is nooit of jy dankbaar is, omdat jy nie so swaar soos Persoon X of Y kry nie. Die Bybel se vraag is eerder of die Here se hart in jou binneste klop. As dit die geval is, sal Hyself jou bewus maak van Sy seëninge in jou lewe. Dan sal die Gees jou Leermeester wees wat God se goedheid in jou lewe onderstreep. Maar Hy sal meer doen as om jou net dankbaar te maak. Hy sal jou ook aanspoor tot ’n lewe van vrygewigheid. Hy sal Jesus se vrygewige hart in jou binneste laat klop. Hy sal Jesus se woorde in Handelinge 20:34 in jou siel ingraveer dat dit beter is om te gee as om te ontvang. Dan sal jy die res van hierdie vers ook jou eie maak, naamlik dat jy hard moet werk sodat die swakkes en armes kan eet. Dan sal jy graag jouself, saam met jou sente en jou tyd, deel met ander. Dan sal jy waarlik iemand wees wat dankbaar én vrygewig leef.
Gebed:
My hart is oop vir U, o God, My hande ook. Leer my om dit ook oop te maak
vir ander mense vandag.




Comments