Moenie ’n drie-sekonde uitkyker wees nie
Hulle sê mense is uitkykers. Iewers word ons almal op en af gekyk, uitgekyk, deurgekyk, aangestaar, vuil gekyk, stukkend gekyk … jy noem dit! Almal van ons ken dit. Almal van ons doen dit een of ander tyd. Ons word uitgekyk en ons kyk uit. Ons kyk en vorm opinies. Ander staar ons aan en doen dieselfde.
Kom ons wees eerlik - dit is nie aldag lekker om te weet jy is die voorwerp van ander mense se kyke nie. Navorsers bevind dat ons gou-gou kan aanvoel as ons aangestaar word. Volgens Michael Argyle, wat hieroor navorsing gedoen het, duur sulke eensydige kyke (“glances”) gewoonlik sowat 3 sekondes.
Kom ons kies opnuut om nie uitkykers te wees nie. Kom ons kies om nie ons oë te gebruik om oorhaastige opinies en menings oor ander mense te vorm nie. Ons mag nie ander mense vasvang of inperk met oorhaastige kyke en opinies nie. Kom ons vra vir Christus vir daardie spesiale oogsalf wat Hy in Openbaring 3:18 aan Sy kerk uitdeel. Kom ons vra Hom vir genadige kyke. En vir sagte kyke. Kom ons kyk na ander mense deur die Here se oë. Kom ons sien eerder Sy hand en Sy betrokkenheid in ander mense se lewens raak as hulle foute en tekorte. Kom ons kyk met deernis en ontferming na ander. Dan wyk daardie gevaarlike drie-sekonde uitkyke. Dan kyk ons sagter en beter. Dan kyk ons met groter deernis, soos wat die Heer van ons vra.




Comments