Moenie jubel as slegte dinge met sondaars gebeur nie
- Stephan Joubert
- 11 minutes ago
- 1 min read
My oog val op ’n paar opmerkings onderaan ’n berig wat vertel van ‘n uithangplek wat iewers afgebrand het. Ek lees hoe iemand skryf dit was die duiwel se plek en dis goed dat daardie plek in vuur opgegaan het. Nog iemand meen sulke plekke moet vervloek word. Tussendeur juig iemand anders oor Sodom en Gomorra wat geval het.
Hoekom put party mense genot daaruit wanneer slegte dinge met mense gebeur wat anders as hulleself glo en leef? Dit rym tog nie met hoe Jesus opgetree het toe Hy hier tussen ons op aarde was nie. Hy het nie om elke hoek en draai vuur laat reën op sondaars nie -inteendeel. Dit is juis in Lukas 9 dat ons lees hoe Jesus sy dissipels ernstig aanspreek as hulle vuur wil afbid op ’n Samaritaanse dorp wat Hom nie wou ontvang nie.
In Lukas 15 se eerste verse lees ons ook hoe sondaars en tollenaars gereeld na Jesus kom luister het. Hy het verlore mense, asook Sy opponente, naby aan Homself toegelaat. Nie net sondaars nie, maar ook daardie godsdienstiges, wat Jesus uiteindelik ter dood veroordeel het, is nooit weggejaag nie. Tot aan die kruis het Jesus God se genade met hulle gedeel. Elke kans wat Hy gekry het, het Hy vir mense van God se koninkryk geleer.
Moenie mense afskryf wat anders as jy leef nie. Doen eerder wat Jesus doen. Dien sulke mense met die evangelie.




Comments