top of page

Moenie jouself vaak verveel nie

  • Stephan Joubert
  • 14 minutes ago
  • 2 min read

Teks: Matteus 13:44


“My lewe is so vaal en voorspelbaar dat ek elke aand van pure verveeldheid aan die slaap raak. Ek verveel myself vaak.” Dit raak iemand lank gelede in die publiek. Die vreemdste van alles was dat dit iemand was wat voltyds in diens van ’n plaaslike kerk gestaan het. Nou ja, ons elkeen het ons af-tye, maar dit is iets anders wanneer ons voel dat ons ’n af lewe leef waar nie eens die evangelie van Christus ons meer opgewonde maak nie. Wanneer verveeldheid en voorspelbaarheid ons permanente nuwe adres geword het, moet ons dadelik iets daaraan doen. Nee, dit is nie maklik nie, veral nie wanneer dit tweede natuur geraak het om in ’n vervelige godsdienstige groef te leef nie. Maar hierdie verandering vanaf verveeldheid na verwondering moet ten alle koste in ons lewe gebeur. 


Voltydse verveeldheid met ons godsdiens kom tot ’n einde wanneer ons Jesus opnuut as die Lewende Skat in die hemelse saailand ontdek. Wanneer ons Hom toelaat om ons op nuwe ontdekkingsreise deur Sy skatkamers te neem, kom daar ’n nuwe veerkragtigheid in ons geloof. Prakties begin dit as ons elke dag net aan die Here se voete kom rus. Wanneer ons net stil raak by Hom deel Hy Sy oorvloedige lewe met ons. Dan breek Sy lig al hoe meer deur wanneer ons net in Sy skatkamer rus. So verander ons nagmerries in goeie drome. So vervaag ons en ons geestelike verveeldheid. Dan sien ons weer hoe die engele van God op en af teen die hemelse leer klim. 


Gebed: Uself is die skat in die hemelse skatkamer. Ek wil vandag saam met U hier tyd deurbring. Ek wil my hele lewe hier deurbring.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page