top of page

Moenie jou asem mors nie

  • Stephan Joubert
  • 13 minutes ago
  • 2 min read

Teks: 1 Korintiërs 15:54


Stan Gerlach moes iewers in Kalifornië ‘n afskeidswoord lewer by ‘n vriend se begrafnis. Aan die einde van sy kort toespraak het hy vir die aanwesiges gesê dat niemand ooit seker is wanneer God jou die dag kom haal nie. Hy het bygevoeg: “At that moment, there’s nothing you can do about it. Are you ready?” Toe gaan sit Stan skielik. Net daar voor al die mense sak hy inmekaar en sterf. Skaars het Stan vir die begrafnisgangers gevra of hulle gereed is om die lewende God te ontmoet, toe sterf hy met hierdie einste woorde op sy eie lippe. So vertel die bekende skrywer, Francis Chan, wat vroeër ook Stan se leraar was, in een van sy boeke. 


Daar kom ‘n dag dat ons elkeen ons laaste asemteug moet uitblaas. Dan eindig alles. Of dalk nie! Nee, verseker nie! Die dood het nie die laaste sê nie. Wat dan? Wat lê dan voor? Het jy al behoorlik hieroor nagedink? Of dink jy die lewe aan dié kant is ewigdurend? Leef jy asof dit net nooit gaan ophou nie? Wel, dit gaan. Leef asseblief so dat elke asemteug van jou goeie asem in jou longe is, waarmee jy God verheerlik. Moenie enige asemteug ooit mors nie. Laat jou asem tel, elkeen wat jy inasem. Maak Christus groot in alles, wat jy dink, doen en sê. Dan haal jy goed asem. Dan sal jou laaste asemteug aan hierdie kant van die graf die beste een ooit wees. Dan sal die dood nie die laaste sê hê nie.


Gebed: Heer, dankie dat elke asemteug in my lewe U verheerlik. Laat dit net so aanhou, asseblief.

Comentários


Não é mais possível comentar esta publicação. Contate o proprietário do site para mais informações.
bottom of page