Mission Impossible: Wat ons van leierskap kan leer
- Roedolf Botha
- Sep 17
- 5 min read
Die laaste fliek in die Mission Impossible-genre, Dead Reckoning – Part 2, het blykbaar die hele reeks nou afgesluit. Ethan Hunt is die hoofkarakter in hierdie fliekreeks en is die leier van ‘n span uitgesoekte en hoogs-gespesialiseerde spioene, wat in elkeen van die agt flieks die wêreld moet red van die een of ander soort terrorisme of kosmiese katastrofe. Die flieks kan maklik gekritiseer word met uitsprake oor onrealsitiese aksietonele, ietwat simplistiese komplotte, asook die oordrewe rol van Ethan as die reddende held. Dit gee aan die reeks ‘n bietjie van ‘n idealistiese smaak. Dalk is dit egter die punt, naamlik om hoog te mik in terme van menslike effektiwiteit, morele standaarde en persoonlike selfopoffering. Die Bybel self leef in hierdie spanning, ‘n spanning tussen realisme oor die mens se inwonende sonde aan die een kant, asook God se uitnodiging om Jesus se hoë ideale en eise van dissipelskap wat Hy aan ons stel, aan die ander kant na te kom. God se hoë ideale vir die nuwe lewe in Jesus geld veral vir geestelike leiers.
Wat ook al jou siening van die Mission Impossible-flieks is, daar kan nie gestry word met die feit dat Ethan Hunt die leiersrol in sy span vervul en dat hy as ‘n baie goeie leier uitgebeeld word nie. Dis duidelik dat Tom Cruise, die vervaardiger en hoofakteur van die flieks, beslis iets verstaan van gesonde leierskap. My eie fassinasie met leierskap het veroorsaak dat ek aan die einde van hierdie fliekreeks ‘n paar realistiese waarnemings oor leierskap kon maak wat ook goed ooreen stem met die soort diensbare leierskap, wat Jesus openbaar. Hier volg ‘n paar waarnemings.
1. Ethan Hunt love sy mense.
Dis seker die mees uitstaande kenmerk van Ethan se karakter, dat hy uiters baie omgee vir sy spanlede. Dit kan in sy opregte ontsteltenis en hartseer wanneer ‘n persoon soms sy lewe verloor, gesien word. Geen mens is vir hom maar net colateral damage nie. Elke mens en persoon maak saak. Op ‘n stadium in die prent Dead Recknoing Part 1 wil hy ‘n vrou wat ‘n dief was as lid van sy span werf. Sy word vir haar wandade in die verlede vergewe en hy probeer haar oortuig om by hulle aan te sluit. Hy verseker haar van al die gevare en dat niemand haar veiligheid kan verseker nie. Dan sê hy:
“But I can assure you of this: your life will always matter more to me than my own.”
Sy antwoord, ietwat onkant gevang en diep aangeraak: “But you don’t even know me.”
“What difference does that make?” is al wat hy terug antwoord.
Hierdie was nie net woorde wat Ethan uitgespreek het nie. Regdeur al die episodes in die reeks spreek sy gedrag en lewe van die geweldige psigologiese verbintenis tot die veiligheid en welsyn van sy mense wat hy openbaar. Hierdie liefde en gasvryheid geld dus ook vir buitestaanders en moontlike vreemdelinge wat die binnesirkel betree. Daar is diep gemeenskap onder hierdie klein groepie mense en die onderlinge vertroue is groot.
Dis wat goeie leiers doen, veral Christen-leiers.
2. Die missie is altyd baie duidelik
Die taak van Ethan en sy span is altyd baie duidelik. Die boodskap aan hom sluit altyd die woorde is: “Your mission, should you choose to accept it, is ton...” Dan volg die oproep tot die taak in pynlike presisie. Goeie leiers kommunikeer die taak en die doel van ‘n werknemer of situasie altyd glashelder. Daar is nooit twyfel oor wat die doelwit en uitkoms van elke taak behoort te wees nie. Dit is een van die take van ‘n leier, naamlik om duidelik te wees oor wat moet gebeur, maar ook wat elkeen se rol hierin behoort te wees.
In gemeentes en besighede kom ek agter dat ‘n baie groot deel van die rede waarom daar chaos, onsekerheid of konflik in so baie omstandighede heers, is omdat leiers aanneem dat mense weet wat aangaan en weet wat om te doen. Dis in meeste van die gevalle gewoon nie waar nie.
3. Die risiko is elke keer groter
Dis merkwaardig hoe mense in leiersposisies altyd wil veilig speel. Die regverdiging daarvoor klink altyd so logies: Dis die beste vir almal, of die mense moet beskerm word. Die waaghalsige toertjies en akrobatiese handelinge wat Ethan verrig, word ‘n sterk simbool van hoe belangrik hoë risiko egter is om enige betekenisvolle missie te verrig. Somtyds moes hy die hoogste gebou in die wêreld van buite af beklim. Ander kere moes hy uit vliegtuie spring en ander kere ‘n trein wat op ‘n afrond afstuur, probeer stop. Een keer moes hy sy asem vir vyf minute ophou en sonder suurstof onder water swem. Elke keer is sy en ander mense se lewens in gevaar gestel. Elke keer bied dit geweldige uitdagings aan elke spanlid. En soos ‘n goeie leier kies Ethan altyd die gevaarlikste van al die take.
Soos die Nuwe Testament moet dit ons herinner dat die hoogste geestelike waarde, veral die kerk, nooit selfbehoud of veiligheid is nie, maar persoonlike selfopoffering. Geestelike leiers, wat die gekruisigde Jesus volg, moet onthou dat ons dit nie altyd kan veilig speel nie. Goeie leiers is dus nie gefokus op die “akkommodering” van mense nie, maar skep eerder geleenthede om hulle lewens neer te lê.
4. Ethan is altyd in die moeilikheid by sommige “goeie” mense
Sy span, die IMF (Impossible Mission Force), is ‘n klein onderafdeling van die Amerikaanse CIA. Maar die CIA en die IMF is byna altyd in konflik met mekaar. Ethan en sy span het gewoonlik insigte en vaardighede wat hulle nie altyd met almal kan deel nie en die breër geburokratiseerde CIA verstaan dit nie altyd nie. Daarom is Ethan en sy span gereeld op die rooi tapyt.
Ek dink dis van goeie leiers vandag ook waar. Die breër korporatiewe verbande wat meer burokraties funksioneer, sal nie altyd verstaan waarmee effektiewe leiers besig is nie. Want goeie leiers daag die status quo uit. Leiers bestuur veranderings en institusies hou nie van veranderings nie.
5. Hulle is ‘n klein groepie mense wat buitengewoon opoffer ter wille van die wêreld
Dis opmerklik hoe die redding van die wêreld altyd bo-aan die agenda is. Die wêreld is in die moeilikheid, maar hulle besef dit nie. Net so besef die meeste mense in die wêreld vandag nie hoe nodig hulle Christus se genade het nie. Daarom kry Ethan en sy span IMF-lede nooit erkenning vir die goeie wat hulle doen nie. Hulle doen dit nie vir eksterne erkenning nie. Hulle het ‘n hoër roeping. Hulle is ‘n klein groepie mense wat van hierdie gevare waaraan die wêreld blootgestel word, bewus is, en hulle moet teen die grein van die lewe in leef om die nodige verskil te maak. Hulle het nie die gemaklikheid, rykdom en publieke aansien, wat baie ander mense het nie. Daarom verg dit geweldige karakter en selflose opoffering om deel hiervan te wees. Dit laat my baie dink aan wat die kerk veronderstel is om te wees.
En aan die voorpunt is Ethan Hunt wat sy span lei om hierdie voortdurende opofferings te maak. Hierdie paar punte herinner ons sterk aan Jesus se eise van dissipelskap en dat gemak en rykdom afleidings kan wees van die lewe van Jesus-navolging. Goeie leiers lei hulle mense om hierdie geestelike nood raak te sien en hulle lewens hiervolgens te orden, al moet ons baie prys gee.




Comments