Marcus Aurelius - ‘n Ware verhaal van ‘n magtige, nederige leier
- Roedolf Botha
- Aug 13
- 5 min read
Daar is soms ‘n groot wit olifant in die kamer van leierskap. Dit is die ongemak wat daar bestaan tussen die geweldige absolute mag wat soms aan sekere leiers toevertrou word, en die karakter van nederigheid en diensbaarheid wat so ‘n leier veronderstel is om te hê. Kan ‘n werklik magtige leier werklike nederigheid ook openbaar? Alhoewel die antwoord op die vraag ‘n natuurlike “ja” is (ons het mos al ‘n paar wonderlike voorbeelde hiervan gesien), weet ons dat hierdie kombinasie in die werklikheid soms raar is. Soms begin ‘n leier baie nederig, maar dan sluip die eiewaan en hoogmoed en uitbuiting van mense so subtiel en stelselmatig in dat ‘n mens maar net weer teleurgestel in sommige magtige leiers staan.
Vandag se leiers kan baie leer by die destydse Stoïsynse denke en leierskap. Die antieke Stoïsynse filosofie en denkwyse het inderdaad vir die waardes van dapperheid, geregtigheid, matigheid en wysheid gestaan. Hierdie filosofie moet egter nie met ‘n hoogs akademiese oefening verwar word nie. In hierdie tyd was ‘n filosoof se wysheid geopenbaar in die manier waarop hy geleef het, nie hoe hy gepraat het, of die akademiese artikels wat hy gepubliseer het nie. ‘n Hele paar effektiewe leiers in die Romeinse Ryk of Griekse demokrasie was Stoïsynse denkers, soos Cleanthes, Diogenes, en Kato die jongere.
Die Stoïsyne het letterlik vir honderde jare gedroom oor ‘n ware Stoïsynse leier, ‘n wysgeer, iemand wat werklik die beskeie waardes van die filosofie sou uitleef, wat ook absolute mag gehad het. Hulle het veral daaroor gedroom dat ‘n Stoïsyn eendag Caesar sou word en steeds hierdie waardes konsekwent sou uitleef. Daar was egter ‘n probleem: Hoe meer mag Stoïsynse denkers ontwikkel het, hoe makliker het hulle hulle vergryp aan politieke mag en rykdom. Hoe hoër hoogtes hulle bereik het, hoe meer het hulle ook maar begin om mense vir hulle eie gewin te misbruik. Die Caesars self was die een ontnugtering op die ander. Ons sien dit vandag ook met soveel besigheid-, politieke-, en selfs kerkleiers gebeur. Twee voorbeelde van suksesvolle staatsmanne was Cicero (106 – 43 v.C.) en Seneca (4 v.C. – 65 n.C.). Albei hierdie leiers het geweldig baie geskryf oor die Stoïsynse wysheid en leefstyl. Hulle het werklik gestreef na die goedheid waaroor hulle geskryf het, en baie hard probeer om moreel te leef, maar uiteindelik was die druk van rykdom, mag en gemak net een te veel vir hulle. Seneca het dit darem in sy guns dat hy aan die einde van sy lewe probeer het om al sy rykdom aan Keiser Nero terug te gee. Uiteindelik het hy gekies om sy eie lewe te neem, eerder as om verder na Nero se pype te dans. Die einde van sy lewe was dus redelik in lyn met die Stoïsynse ideaal, alhoewel hy gesukkel het in die grootste deel van sy lewe.
Hierdie Stoïsynse droom is egter redelik vervul deur die geboorte van die tweede-eeuse Caesar, Marcus Aurelius (121 – 180 n.C.). Hy het ‘n paar baie veelseggende praktyke gehandhaaf en houdings openbaar waaruit ek dink Christenleiers baie kan leer.
Die Caesar wat aan bewind was tydens Aurelius se kinderjare, Hadrianus, se bynaam vir Marcus was “Verissimus”, wat beteken, “die waarste (egste) een”. Van kleins af het Marcus Aurelius die reputasie ontwikkel dat hy altyd die waarheid gepraat het, ongeag met wie hy praat of in watter omstandighede.
Alhoewel Marcus van jongs af Hadrianus se beplande opvolger as Caesar was, het die jong Marcus sedert sy tienerjare al uit vrye wil gewoontes van nederigheid begin aanleer, soos om uiters eenvoudig aan te trek en op die vloer te slaap. Sy gewoonte om gemak te vermy was iets wat hy gehandhaaf het tot met sy dood.
Hy het voortgegaan, selfs later as Caesar, om homself deur onderwysers te laat onderrig. Hy het daarop aangedring om hulle klasse te gaan bywoon, waar hulle in groepe klas gegee het, in die nederigste omgewings, eerder as om aan te dring dat hulle na hom toe kom.
Hy was uiters versigtig vir die mag van keiserskap. Toe iemand eendag vir hom vra waarom hy so bek-af lyk nadat Hadrianus sy toekoms as Caesar aangekondig het, noem Marcus ‘n klomp misdade en bose dade op wat al vantevore deur Caesars gepleeg is. Hy was vreesbevange om sy eie mag te misbruik.
Toe Marcus Caesar word, het hy ‘n probleem gehad. Hy’t ‘n aangenome broer gehad wie se bloedbande nader was aan die vorige Caesar as aan sy eie. Dit was die gewoonte by alle ander vorige Caesars dat wanneer hulle Caesar word, hulle alle moontlike kompetisie en bloedfamilie van die vorige Caesar uit die weg ruim en doodmaak, sodat daar geen moontlikheid kan bestaan van ‘n bewindoorname nie. Wat doen Marcus Aurelius met sy aangenome broer, Lucius Verus? Hy deel sy eie mag en maak hom mede-Caesar!
Tydens Aurelius se bewind het die bekende Antonynse plaag uitgebreek wat vyf miljoen mense se lewens geëis het. Baie belangrike staatsmanne het in hierdie tyd uit die stad gevlug. Nie Marcus Aurelius nie. Hy het regdeur die hele tyd van die pandemie gebly om aan sy eie mense vertroosting en hoop te bring.
Toe die geldkas van Rome as gevolg van die pandemie en oorloë teen die Germane baie leeg was, kon hy gedoen het wat byna alle vorige Caesars gedoen het: Die belasting verhoog. Wat hy egter wel gedoen het was om al die duur ornamente van sy eie paleis te skenk om verkoop te word om die ekonomie van Rome weer ‘n hupstoot te gee.
Na aan die einde van sy regering het een van Aurelius se mees vertroude generaals, Avidius Cassius, hom verraai en ‘n poging geloods om hom te onttroon. Enige ander Caesar sou met brutale geweld optree, die rebellie stuit, vertrap en die leiers teregstel. Aurelius het wel die rebellie gestuit, maar sy ou vriend vergewe en die vriendskap voorgesit. Cassius se medepligtiges is ook vergewe en is ongestraf gelaat.
Daar word van Aurelius gesê dat hy die een Caesar was wat letterlik ‘n beter mens geword het en meer moreel en barmhartig as gevolg van sy keiserskap geraak het.
Hy het vir die regte van bevryde slawe geveg en dit selfs moontlik gemaak dat ‘n slaaf van sy eienaar se eiendom en besittings kon erf, iets wat ongekend was in die antieke tyd. Hy het ook enige vorm van wreedheid teen slawe verbied.
In sy skrywe, Confessions, beskryf hy sy lewensleuse: ‘’Do the right thing. The rest doesn’t matter ... Waste no more time talking about what a good man is like. Be one.’’
Marcus Aurelius was geen perfekte keiser nie. Hy het ook dikwels teen sekere Christene opgetree, alhoewel ‘n kerkvader soos Tertullianus ook getuig het dat Aurelius nie net negatief teenoor Christene was nie en hulle dikwels ook sou beskerm.
Aurelius was die laaste bekende Stoïsyn, met enkele uitsonderings. Ek dink daar is ‘n rede voor: Jesus het gekom. Die Heilige Gees is uitgestort. Die Jesus-beweging het ‘n kragtiger rede en lewensbron vir positiewe lewenstransformasie geword as wat die Stoïsynse filosofie kon bied. Teen die jaar 350 n.C. is die meeste Griekse filosofieë vervang deur geloof in Jesus. Jesus dryf ons lewens, ons lewenstransformasie en ons geestelike groei. Tog gebruik Hy nie-Christene, soos Aurelius, om vir ons te wys hoe ons kan wees. Indien ons die lewensverhaal van Marcus Aurelius deur die bril van Jesus lees, sal ons die tipe leiers kan word na wie die wêreld opkyk en deur wie God se koninkryk opnuut kan aanbreek.
Comments