top of page

Maak jou ore oop vir hoop

Stephan Joubert
2 hours ago
2 min read

Teks: Psalm 73:28


Asaf verloor amper sy laaste greintjie geloof in Psalm 73. Dit gebeur as hy sien hoe sleg dit met homself gaan en hoe goed dit met goddeloses, wat nie die Here dien nie, gaan. Luister net hoe hy verwyte uitklaag in vers 13-14 (DIE BOODSKAP): “Ekself het verniet gedoen wat God sê. My gebede het niks gehelp nie. Dit was ‘n mors van tyd, want elke nuwe dag het ‘n vrag vol nuwe probleme op my gewag. Daar was geen einde aan my swaarkry nie. Ek is elke dag soos ‘n vloerlap behandel.” Maar toe onthou Asaf om sy pelgrimsklere aan te trek en na God se heiligdom toe te gaan. Daar ontdek hy God is nog altyd op sy pos. Hierdie wete verander eensklaps Asaf se eie hooplose lewe. Hy ontdek die God van die hemel en die aarde het nooit sy hand gelos toe hy met sy opstand teen Hom besig was nie.


Dit was toe al die tyd Asaf wat homself eiehandig uit God se Vaderhand probeer loswurm het. Al wat regtig nodig was, was die regte soort kyk en luister. Asaf moes leer dat om God te sien en te dien, moet ‘n mens net jou houding verander van opstandigheid tot nederige aanbidding. Op hierdie manier het Asaf geleer om die Onsienlike te sien en om die Onhoorbare te hoor! Dit is presies wat elke gelowige vandag nog moet doen. Ons moet aanhou luister totdat ons God in geloof raak hoor. Dan sal ons ore oopgaan vir hoop!


Gebed: Ek kom sit langs Asaf sodat ek U beter kan raaksien, Here. Maak my oë oop. Laat my ore beter hoor. 

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page