• deur Coen Slabber

Leier Nuusbrief - Christene en die Korona-virus



Hierdie nuusbrief verskil van die gewone nuusbriewe. Prof N. T. Wright het ‘n brief in Time Magazine geskryf oor Christene en die Korona-virus. Omdat dit heelwat opslae gemaak het, het ek besluit om ‘n samevatting daarvan te maak. Weens sy klem op klaaglied/lament het ek oor ‘n artikel oor klaagliedere/lament aangeheg.

Christene en die Korona-virus


N.T. Wright het ‘n artikel in Time Magazine geskryf. Die opskrif was: Christianity Offers No Answers About the Coronavirus. It's Not Supposed To. Hierdie opskrif is deur die subredakteur van die tydskrif en nie deur Prof Wright self gekies nie. Soos verwagte het dit heelwat opslae gemaak. N. T. Wright is ‘n senior navorsingsgenoot aan die Universiteit van Oxford en die skrywer van meer as 80 boeke.

Kom ons kyk ‘n bietjie na hierdie artikel.

Vir baie Christene het die beperkings as gevolg van die Korona-virus gekom tydens Lent (die Vasdag). Dit is tradisioneel die seisoen waar ons sonder iets klaarkom. Die nuwe regulasies- geen skole, geen teaters, ‘n virtuele huisarres – is veel ernstiger as die Lent beperkings. Om sonder sjokolade of brandewyn te gaan, is kinderspeletjies in vergelyking met nie vriende en familie sien nie, nie uitgaan na die biblioteek of kerk toe nie.

Hierdie vasdag het geen Paasfees om na vooruit te sien nie. Daar is nie rus nie, maar ‘n angstige hartseer.

Natuurlik sal die dwase ons vertel waarom God dit doen. ‘n Straf? ‘n Waarskuwing? ‘n Teken? Hierdie is impulsiewe sogenaamde Christelike reaksies in ‘n kultuur wat rasionalisme aanvaar het – vir alles moet daar ‘n verduideliking wees. Maar sê nou net dit het nie ‘n verduideliking nie? Sê nou maar net ware menslike wysheid is nie die vermoë om ‘n reeks twyfelagtige spekulasies bymekaar te voeg nie? Vroeg in die 1940’s het T. S. Elliot gesê dat die enigste raad is om sonder hoop te wag, want dalk hoop ons vir die verkeerde ding.

Rasionaliste, ook Christen rasionaliste, wil verduidelikings hê. Romantici, ook Christen romantici, wil net ‘n sug van verligting slaak. Miskien is dit wat ons nou nodig het die ou Bybelse tradisie van lament (weeklaag/ jammerklag) weer te ontdek. Weeklaag is wat gebeur as mens vra: “hoekom” en nie ‘n antwoord kry nie. Dit is waar ons kom as ons verby ons selfgesentreerde bekommernis oor ons sondes en tekortkominge kom en breër na lyding in die wêreld kyk. Dit is sleg om ‘n pandemie in New York of London te hê, maar wat van ‘n oorvol vlugtelingkamp? Wat van Gasa? Wat van Suid-Soedan?

Op hierdie stadium kom die Psalms, die Bybel se eie liedboek, tot sy reg. In Psalm 6:3 - 4 lees ons: Ontferm U oor my, Here, want ek kwyn weg, maak my gesond, Here, want my liggaam is uitgeteer. Ek is heeltemal gedaan. Hoe lank nog, Here, voordat U uitkoms gee? Psalm 10 vra reguit: Waarom staan U so ver weg, Here? Waarom trek U U terug in tye van nood? So gaan dit aan: Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? Vir altyd? (Psalm 13:2). En dan Psalm 22:2 wat Jesus ook aan die kruis aangehaal het: My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep?

Hierdie gedigte kom dikwels tot die lig aan die einde met ‘n vars sin van God se teenwoordigheid en hoop. Dit verduidelik nie die probleem nie, maar stel ons gerus midde in die probleem. Soms werk dit andersom. Psalm 89 begin deur God se goedheid en beloftes te besing. Skielik skakel dit oor en verklaar dat alles verskriklik verkeerd is. Psalm 88 begin in ellende en eindig in donkerte. U laat my vriende en my bure ver van my af staan, die duisternis van die dood is my geselskap (Psalm 88:19). Herinner ons aan ons huidige inperking.

Weeklaag/Lament in die Bybelse tradisie is nie net ‘n uitlaat vir frustrasie, hartseer en ons onvermoë om te verstaan wat gebeur en hoekom nie. God lamenteer ook. Sommige Christene glo dat God bo dit alles is – Hy weet alles, Hy beheer alles, Hy is kalm en word nie deur die probleme van die wêreld beïnvloed nie. Dit is nie die beeld wat ons in die Bybel kry nie.

Genesis sê dat Jesus getreur het oor die boosheid van die mens. Hy was verpletter toe sy bruid, die mense van Israel, van Hom af weggedraai het. Jesus het by die graf van sy vriend, Lasarus, gehuil.

Dit is nie deel van die Christelike roeping om alles wat gebeur en hoekom te kan verduidelik nie. Inderwaarheid is dit deel van die Christelike roeping om nie te kan verduidelik nie en te lamenteer. Soos die Gees saam met ons lamenteer word ons, selfs in ons isolasie klein heiligdomme waar die teenwoordigheid en genesende liefde van God kan woon. Hieruit vloei nuwe moontlikhede, nuwe optredes van deernis, nuwe wetenskaplike verstaan en nuwe hoop. Dalk nuwe wysheid vir ons leiers?


Weeklaag/Lament


[Lament = weeklaag of jammerkerm – lamenta = Huil in Latyn.]

Die strate is leeg. Die hospitale is vol. Niemand weet hoe lank dit nog gaan duur en of dit nog gaan vererger nie. In hierdie tyd van kragteloosheid en magteloosheid moet ons weer die antieke praktyk van lament ontdek. N. T. Wright het ‘n artikel in Time Magazine geskryf waarin hy die versoeking weerstaan om allerhande verduidelikings vir ons huidige krisis te gee. Hy nooi ons uit om te lamenteer wat tot hoop lei. Dit is deel van die Christelike roeping om nie te kan verduidelik nie. Soos die Gees in ons lamenteer word ons klein ruimtes waarin die genesende liefde van God kan woon.

Maar wat is lament? Is dit ‘n klagtesessie? Is dit ‘n sinoniem vir rou? Die psalms is ons rigtingwyser in hierdie praktyk.

1. Lament is ‘n vorm van lof.


Baie Ou Testamentici glo dat twee-derdes van die psalms lament is. Hoe kan ‘n versameling wat so baie klagtes insluit nou as lof gesien word?

In ons alledaagse gebruik is lament en klagte amper dieselfde. In die Skrif word lament en klagte in verskillende kontekste gebruik.

In Eksodus 16 – 17 kla die Israeliete oor die gebrek aan brood en vleis. Hulle glo die ergste van God – Hy wil hulle laat omkom. Die mense wat dramaties uit Egipte en by die Rooisee gered is, draai teen hulle Verlosser. Eintlik was hulle besig om God te toets. In die psalms, daarenteen, vra Israel vir God om in sy oneindige liefde te antwoord. Hier is Hy die God van reg en geregtigheid, want Hy was getrou in die verlede. As ons Israel in die woestyn teenoor Israel in aanbidding stel, kan ons sê dat ‘n klagte ‘n aanklag teen God is wat sy karakter beswadder terwyl ‘n lament ‘n oproep tot God is as gevolg van die psalmis se vertroue in sy karakter.

2. Lament is die bewys van die verhouding.


Israel bring hulle lament na God in die psalms op grond van sy verbond met hulle. Hierdie was nie nuttelose pogings om ‘n God wat ver weg is se aandag te trek om hulle raak te sien nie. Hulle was nie soos die priesters van Baāl wat hulleself gesny en rondgespring het om hulle god se aandag te probeer kry het nie.

Hulle was die mense wat YHWH, die Skepper, sy eersgeborenes genoem het. Hulle vra hulle Vader om op te tree.

Kinders wat vertroue in hulle versorgers het, huil. Ons lament, as ons dit na die Vader neem, is dit ‘n bewys van ons verhouding met God, ons Vader in die hemel - ons verbinding met die groot Versorger.

3. Lament is ‘n pad na intimiteit met God.


Die sielkundige Bonnie Poon Zahl het ‘n artikel geskryf oor die teorie van gehegtheid. Sy beskryf drie tipes gehegtheid. ‘n Seker gehegtheid, maar ook ‘n angstig-vermydende gehegtheid en ‘n angstig-teenstrydende (anxious-ambivalent) gehegtheid. ‘n Angstig-vermydende kind gee nie om as hy van sy ouers geskei of herenig word nie. Hulle wil net alleen speel. ‘n Angstig-teenstrydige kind klou aan sy ouers vas en is baie ontsteld as sy ouers weggaan. Hy is moeilik om te kalmeer. As sy ouers terugkeer ls hy oënskynlik kwaad vir sy ouers omdat hulle hom verlaat het. 0ns het ‘n neiging om ons verhoudingsdinamika met God te sien in dieselfde twee dimensies: vrees vir skeiding en vermyding van intimiteit.


Wat opval in die psalms is die eerlikheid. Deur elke emosie en elke ondervinding voor YHWH, hulle Verbondsgod, te lê, versterk die psalmis ‘n band van intimiteit. Israel beliggaam die band van die verbond deur hulle harte oop te breek voor Hom. Die God wat praat, roep ons op tot ‘n verhouding. Lament is een van die manière waarop ons reageer.

4. Lament is ‘n gebed aan God om op te tree.


Lament in die Bybel is nie ‘n uitlaat vir ons frustrasies nie. Lament is in die vorm van ‘n gebed. Gebed is nie passief nie. Baie van die klaagpsalms in die Bybel is oproepe tot optrede. Hulle pleit by God om aandag aan hulle te gee en om ten behoewe van hulle op te tree. Baie Ou Testamentici beskou petisie/smeekskrif as ‘n integrale element van ‘n lament in die Bybel. Die Hebreeuse woord vir Hoor (shema) kom 79 keer voor soos die psalmis God oproep om te hoor na hulle uitroep. Die psalmis maak ‘n oproep op God se karakter en verbond en vra vir sy aandag en optrede.


Die Nuwe testament neem dit verder. Toe Jesus sy dissipels geleer het om te bid, gee Hy nie vir hulle iets om die tyd mee te verwyl nie. Hy nooi hulle uit om deel te neem aan die aankoms van sy koninkryk. In Paulus se briewe was gebed nie net die inleiding nie, maar die uitgangspunt van sy hele brief. Hy beliggaam die teologie en etiek in sy doksologie. Prof Wright stel dit soos volg: “when we are indwelt by the Holy Spirit, then somehow, God is praying within us for the pain around us”.


5. Lament is deelname aan die pyn van ander.


Om die psalms te bid, is ‘n deelname aan die gebedslewe van die kerk – histories en globaal. Lament is nie net vir dié wat ly nie; dit beteken solidariteit met hulle. Ons het ons naaste lief as ons toelaat dat hulle ondervinding van pyn die inhoud van ons gebede word. Dit is immers wat Jesus vir ons gedoen het. Aan die kruis bid Jesus die woorde van Psalm 22;2: My God, my God, waarom het U MY verlaat. Hierdie was die gebed van baie Joodse martelare in die eerste eeu. Jesus bid dus in solidariteit met dié wat ly. Elke gebed van lament wat ons bid is nog een van solidariteit.

Lament is nie ons finale gebed nie. Dit is ‘n tussentydse gebed. Meeste van die psalms van lament eindig met lof – ‘n belofte om God te dank vir sy verlossing. Jesus het uit die dood opgestaan. Ons weet dus die storie eindig nie met hartseer nie. Nou bid ons ons lament aan God en wag in hoop. Kom Here Jesus, kom.

© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

logo snapscan.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: