Leier, jy hét meer as wat jy dink!
Leiers kan maklik data-junkies word. Ons het al voorheen gesê dat leiers vandag ‘n gebrek aan durf toon en dan graviteer na ‘n oorafhanklikheid van data, tegniek en navorsing, óf ‘n oordrewe empatie met onvolwasse mense sonder om hulle aanspreeklik te hou. Vandag spreek ons die eerste scenario aan: die onvolwasse manier waarop sommige leiers met data en navorsing omgaan.
Leiers neem berekende risiko’s, verken nuwe terrein en moet dan en wan mense liefdevol konfronteer. Sommige leiers is egter vreesbevange om die nodige stappe te neem deur vir hulleself te vertel dat hulle oor te min informasie, data of “feite” beskik. Interessante en gesaghebbende navorsing deur leierskapnavorser, Edwin Friedman, dui egter daarop dat so lank as wat leiers, ouers en bestuurders hulle vertroue plaas in hoeveel data hulle tot hulle beskikking het, hulle daartoe verdoem is om vir ewig oneffektief en onvoldoende te voel. Hulle sal nooit opvang in die wêreld van kennis en data nie. Dis net te veel. Die hoeveelheid data in die relevante veld is so oorweldigend dat enige robuuste navorser nooit genoeg sal kan weet nie. Te veel leiers maak vandag wêreldwyd die volgende foute:
Hulle verwar informasie met kundigheid.
Hulle verwar know how met wysheid.
Baie informasie, aldus Friedman, is nie die moeite werd om in te samel nie, al klink dit ook hoe slim, nuut, geleerd en vars. Leiers word slegs meer en meer angstig in hulle eie pogings om by te hou met al die onbeperkte hoeveelhede data en tegnieke wat geproduseer word deur ‘n kroniese, reeds angstige samelewing.
Die effek hiervan produseer ‘n samelewingsagteruitgang in ons wêreld wat, eerstens, ‘n leier se natuurlike instinkte van nuuskierigheid en avontuur met ‘n onrealistiese en ongesonde vergryping aan sekerhede vervang. Tweedens, fokus hierdie angs op die swakhede en die tekorte van die leier en sy span, in plaas daarvan om te vertrou dat hulle reeds in hulleself, in die span self, die nodige onontginde vaardigheid het om voort te gaan. Die leier het juis die durf nodig om hierdie vaardighede, insigte te ontgin en uit die span te vore te laat kom.
Friedman sê:
“Ultimately, the capacity of leaders to distinguish what information is important depends less on the development of new techniques for sorting data than on a leader’s ability to avoid being driven by the regressive anxiety that is often the source of the unregulated data proliferation to begin with.”
Die denkfout wat leiers dus maak is om soos volg te redeneer:
As ons net genoeg geweet het, sou ons enige ding kon regmaak / enige probleem kon hanteer, of: Die rede waarom ons gefaal het, is omdat ons nie die regte metode gebruik het / die regte inligting gehad het nie.
Daar is nog baie wat die leier te doen staan om hierdie uitdagings die hoof te bied, maar ek sluit hierdie brief af met ‘n paar vrae waaraan die leier homself en sy span eerder moet onderwerp en wat hulle deur ‘n proses begelei waar elke vraag, in die lig van elke individu op die span en die span self, bespreek en deurgewerk word totdat daar vir die groep lig opgaan. Elke individu vra hierdie vrae oor homself en die hele span beantwoord die vraag oor elke individu.
Hierdie vrae is dinge soos:
Watter soort mens is ek in die span?
Watter soort mens wil ek graag in die span wees?
Watter soort mens moet ek wees om die hele span optimaal te laat funksioneer?
Watter verlies moet ek en / of die res vrywillig ly om die span te optimaliseer?
Hoe lank dink ons gaan dit neem om deur hierdie proses te werk?
Hoe het ons in die verlede krisisse, wat onproduktief was, hanteer?
Watter verhoudingsbande in die span vind ons gekompliseerd en beperkend?
Watteer lede van die span gaan deur persoonlike krisisse, wat hulle eie integriteit in die span ondermyn? Hoe kan ons as span hierdie individue ondersteun asook aanspreeklik hou?
Wie in die span, in die organisasie, buite die organisasie gaan ly, indien ons nie hierdie struikelblok oorkom nie?
Is daar iemand wat kan voordeel trek, indien ons as span nie slaag in ons taak nie? Hoe kan dit relevant wees?
Wanneer ‘n mens na bogenoemde vrae kyk, kan daar waargeneem word dat dit ‘n redelike vlak van volwassenheid en verhoudingsintelligensie neem om deur hierdie vrae te werk. Die leier self moet ook, soos Jesus aan die kruis, kan kwesbaar wees voor die span en moet bereid wees om die voortou te neem in die erkenning van foute. Hy sal ook gemaklik moet wees met emosionele ongemak.
Ek kan nie help om te dink aan Jesus en sy dissipels nie. Hy het die mees ongemaklike gesprekke met hulle gehad, ongemaklike vrae aan hulle gestel en soms ontstellende realiteite van die koninkryk van God met hulle gedeel. Ons moet ons spanne deur dieselfde prosesse kan neem sodat ware en diep groei kan plaasvind.




Comments