top of page

Hoe lei ons in ‘n omgewing van kroniese angs?

  • Roedolf Botha
  • 1 day ago
  • 4 min read

Die metaal van ‘n leier word in moeilike omstandighede getoets - dit weet ons. Edwin Friedman beweer dat ons in die laaste twee dekades mense en organisasies te midde van kroniese angs lei. Die internasionale (en natuurlik plaaslike) wêreld is met konstante angs gelaai. Sekere omgewings met meer vernietigende angs is egter nie die omgewings met stres oor dinge aangaande die politiek of ekonomie nie. Dis veel eerder sekere toksiese omgewings waar die atmosfeer so plofbaar is dat enige klein vonkie die ding sal laat ontplof. Sulke omgewings met plofbare atmosfere is gewoonlik uiters oneffektief, omdat daar in reaksie gefokus word, nie op waar die gas vandaan kom nie, maar op die persoon wat die vuurhoutjie getrek het. Sulke leierskapspanne lê veel eerder klem op tegniek, as op die komplekse emosionele proses wat benodig word om by die ware probleem uit te kom. Friedman noem vyf kenmerke van so ‘n angstige omgewing, waar daar op die snellers gefokus word eerder as op die gas, en hoe om dit te verwyder.


  1. Reaktiwiteit: Hier is mense gedurig so intens, liggeraak en sensitief dat enige opmerking van een persoon die senuwees van die ander so bombardeer dat dit moeilik is om nie plofbaar te reageer nie. Mense in so ‘n omgewing word eerder ge-”trigger” deur uiterlike stimuli as innerlike nadenke. Mense onderbreek mekaar voortdurend en alles word persoonlik opgeneem. Friedman wys daarop dat sommige irrasionele opmerkings soms in ‘n skyn van redelikheid gemaak word. Daar word nie altyd geskree en tekere gegaan nie, maar onder die skyn van kalmte heers daar steeds die dieper motiewe wat emosioneel gedryf word. Nog ‘n eienskap van toksiese reaktiwiteit is dat daar geen ruimte meer oor is vir humor, speelsheid en terggees nie.


  1. Tropinstink: In ’n groep, wat groei in die rigting van die sterk punte en individue in die groep, ontwikkel balans tussen individualiteit en saamwees, “saamheid” / ons-heid / “togetherness.” ‘n Kronies toksiese groep gooi hierdie ewewig uit in die rigting van “togetherness”, rondom die mees disfunksionele lede van die groep. Die saam-met-mekaar-wees word nou gebou rondom die instandhouding van lekker gevoelens onder mekaar. Niemand moet verder ontstel word nie. Hou net almal gelukkig. Met ander woorde die “slagoffer” word so gepamperlang dat die groep rondom hierdie persoon begin skaar. Gevoelens is belangriker as idees, vrede word bo vooruitgang geag, gemak bo groei, emosionele gemak bo avontuur. Hierdie swak skakel word die identiteitdrywer van die hele groep en die belangrike probleme word nie hanteer nie. Hulle oefen dan groepsdruk uit op die leier wat die ware wortel van die probleem probeer oplos, die ware stand van sake probeer ontbloot. Hy word dan gereeld gemaan om meer “empaties” te wees en te “verstaan”. Probleme word in swart en wit geformuleer, alles- of niks-kategorieë. Die groep raak militant teenoor buitestaanders, of cancel lede van die groep van wie hulle verskil. Oplossings word gesoek in die rigting van paai-strategieë om die mees onvolwasse lede tevrede te stel. Die leier of persoon wat die groep tot verantwoording roep, word beskuldig van wreedheid, harteloosheid, ongevoeligheid, koudheid en selfsug, terwyl dit dikwels geensins die geval is nie. Die invloed op leierskap is uiters ontmoedigend en die druk word geplaas op die leier om polities inkorrekte opinies te handhaaf; dit ontmoedig uitnemendheid deur te graviteer na die swakste skakel; dit maak dit moeilik vir leiers om helder en duidelik oor visie en missie te wees; dit forseer leiers om deel te neem aan eindelose gesprekke wat nêrens heen gaan nie


  2. Blaamverplasing: ‘n Metafoor uit die mediese wêreld kan dalk help. Friedman praat oor die beste manier om soms ‘n indringervirus of bakterie te bekamp. Die beste strategie is gewoonlik nie om teen die bakterie alleen oorlog te verklaar nie, maar om jou eie immuunstelsel so te versterk dat dit self die indringer mettertyd uitwerk. Sodoende word ‘n proses geskep wat ander probleme in die liggaam ook kan oplos. Kronies angstige groepe het lae immuunstelsels: hulle bly gefokus op wat as die “outsider” beskou word. Daar is dus geen introspeksie nie. Alle skuld / gevaar bly daarbuite. “What has been labeled as ‘post traumatic stress’ is not simply the result of an event but has much to do with the way the family, or the person, had been developing before the event as well as with the way it responds to the shocking experience afterwards”, aldus Friedman. ‘n Kronies angstige groep sal dus altyd bly fokus op die uiterlike agent, eerder as hulle eie response op die situasie. Friedman sê: “Divorce can also be seen as an effect of the national tendency to displace blame.”


  3. “Quick fix” – mentaliteit: In teenstelling met die natuurlike prosesse van lewenslange groei, dink kronies angstige groepe dat hulle genesing en lewensvrug kan versnel d.m.v. tegniek (praktiese vaardighede). Ons lae fisiese en emosionele pyndrumpel is deel van die probleem. Baie mense het geen hoë kapasiteit meer vir diep, langsame prosesse nie. Saam met oordrewe empatie veroorsaak dit dat ons nie ons mense oplei om ongemak en pyn te hanteer nie. Daar word gesoek na kort antwoorde, vinnige uitkomste. Die kronies angstige organisasie of familie is uiters ongeduldig en vind die eerste beste antwoord wat lyk soos ‘n moontlike oorsaak vir die probleem (kousale oorsake). Probleme kan op ‘n lineêre manier opgelos word - so word geglo. Wanneer dit kom by ouerskap, is ouers se pyndrumpels vir hulle kinders te laag. Met ander woorde, ouers spaar hulle kinders alle emosionele ongemak, omdat hulle self hulle kinders se emosies kan hanteer in daardie ongemaklike omstandighede nie. So leer hulle nooit hulle kinders om swaar tye en uitdaging self te hanteer nie. Ook in die beradingsveld kan die empatie van die berader ‘n probleem raak. Navorsing toon dat sommige huwelike gereeld ten gronde gaan weens beraders se lae pyndrumpels wat nie die pyn van die egpaar kan hanteer nie. So val die organisasie vir korttermyn kitsoplossings en die nuutste bevlieging wat hulle hoop vir hulle verligting kan bring. Dit lei tot denkwyses soos fundamentalisme en reduksionisme.


Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page