Korter is partykeer beter
- Stephan Joubert
- Jun 30
- 1 min read
Die Franse wiskundige, Blaise Pascal, het in 1657 in een brief opgemerk dat hy nie genoeg tyd gehad het om dit korter te skryf nie. In 1690 maak die filosoof, John Locke, ’n soortgelyke opmerking oor een van sy artikels. Hy het gesê hy was óf te lui óf te besig om dit korter te skryf. Pascal, Locke en ander effektiewe kommunikeerders weet langer is meestal makliker, maar korter is moeiliker. Hulle het ook geweet dat korter dikwels meer impak het.
Jesus is ’n meester van korter, impakvolle uitsprake. Tegnies staan dit bekend as aforismes. Dink hier aan Sy aardskuddende woorde soos: “Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die aarde erf” (Matteus 5:5). Moenie oordeel nie, sodat julle nie veroordeel word nie” (Matteus 7:1). “As julle nie verander en soos klein kindertjies word nie, sal julle nooit die koninkryk van God binnegaan nie” (Matteus 18:3). “Ek is die Goeie Herder. Ek lê my lewe af vir my skape” (Johannes 10:11).
Jesus se modelgebed, die Ons Vader, is ook ewe kort en kragtig. Terwyl Hy besig was om dit vir Sy dissipels in Matteus 6 te leer, het Hy bygevoeg dat ons nie moet dink God word deur ellelange gebede beïndruk nie. Hy weet wat ons nodig het. Daarom bid ons eerder meermale deur die loop van die dag ’n paar korter gebede. Ons doen dit op deurdagte en kragtige maniere. Daarom praat ons ook korter en meer sinvol met mekaar. Ons voer nie gedurig monoloë, waarna die res stilswyend moet luister nie. Dan verhoog ons impak. Dan luister mense graag ook as ons oor die Here praat.
Comentarios