
(Vandeesweek sluit ek ’n gedeelte in vanuit die daaglikse rubriek wat ek skryf in die dagblad Beeld)
Mag ek jou oornooi na ’n ander vuur toe, een wat goeie hitte afgee. By daardie oorkantste vuur brand almal seer. Daar baklei almal. Daar stry almal oor wie is die meeste benadeel en verneder. Vroue, mans, kinders, wit swart, gay, straight, oud, jonk en al die res is daar slagoffers. Daar is soveel oop wonde, soveel rou emosies. Kom sit hier. Hier maak die vuur almal warm. Hier is genesing te vind... asook ‘n bietjie vrede en rus vir elkeen se gemoed. Hierdie is Jesus se goeie vuur. Ja, daar by die ander vuur sê sommiges dit ook. Maar hulle verstaan nie vir Jesus reg nie. Hulle neem Hom eintlik net in diens vir hulle eie seermaak stories wat almal gedurig laat skuldig voel. Of vir hulle eie agendas vir geregtigheid.
By hierdie vuur waar Jesus die Eregas en Gasheer is, sit mense graag hulle seerkry aan sy voete neer. Hier leer hulle om deur die Here se genadige oë na mekaar te kyk, en om met mekaar te praat as regte mense… as kosbare mense! Hier is niemand slagoffers nie. Of wenners ten koste van ander nie. Hier is almal begenadigdes. Hulle eie pyn en seerkry word deur die kruis getemper. Hier ruil mense hulle eie verhale op vir Syne. Hier leer almal om Jesus se verhaal bo-oor hulle eie lewensverhale te skryf en om dit oor te vertel en uit te leef. By hierdie vuur is daar warmte en veiligheid, die Here S’n. Kom sit asseblief hier.
Comments