top of page

Kokketiel

  • Siegfried Louw
  • 2 days ago
  • 3 min read

Meer as vier dekades gelede was ek in die Kinderkrans. My ma was een van die Kinderkranstannies, so ons was van die eerstes wat op ʼn Maandagmiddag opgedaag het. Ons was ook van die laastes wat huis toe gegaan het, met huiswerk wat nog wag.


By die Kinderkrans het ons vele rye stoele gevul en dan het die predikant se vrou met ons geraas, omdat almal hulle bene swaai terwyl sy praat. Daar het die orrelis vir ons nuwe liedere uit die Gesangeboek geleer. Ons het met elke kwartaalafsluiting koekverkoping gehou. Op dáárdie dag het almal met ekstra verhoogde suikervlakke huis toe gegaan.


Die ding wat my egter keer op keer na hiérdie storie toe terug laat gaan het, was die stories. Na die grootgroepbyeenkoms was daar elke keer ʼn kleiner groepbyeenkoms. Daar het ons Bybelstories en ander stories aangehoor, gevolg deur ʼn intense sedeles wat iemand vir die Sondagkooltannie voorberei het.


Die tannie wat ek die meeste gekry het, was tannie Daphné. Sy het vir twee of drie jaar lank vir my Kinderkrans gegee, met nog so ʼn jaar of wat by die Sondagskool ook. Tannie Daphné en haar man het nie kinders gehad nie. Ons besige spulletjie laerskoolkinders was op ʼn Sondagoggend of op ʼn Maandagmiddag tannie Daphné se kinders.


Die Kinderkrans se lesse het my egter vir die res van my lewe gefassineerd gekry oor die Bybel en wat ons glo. Hoe dan nou so?


Die Bybelstories het my op ʼn sekere manier laat vóél en dínk. Die Kinderkransles is só uitgewerk dat ons die stories op ʼn vars, nuwe manier kon hoor. Ek het geweet, dat daar gena elke storie ʼn sedeles volg. Dan het tannie Daphné baie vurig oor haar boodskap geraak. Sy het letterlik ʼn bietjie skuim om die mond gekry soos wat sy verduidelik het. Ek was egter gefassineerd met die hele storie. Die Bybelverhale het my ánders laat voel en ánders laat dink as die sedesinne wat tannie Daphné te gesê het. Die stories in die Bybel het my nuuskierig gemaak en alternatiewe tonele laat opdroom. Tannie Daphné se sedeles daarna het egter nie ruimte gehad vir opsies nie. Dit was duidelike moets en moenies, met ʼn duidelike uitspel van gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid en die gevolge van elkeen.


Dit het my keer op keer laat teruggaan: Eers die storie en die opsies wat dit ontsluit het, en dan die sedeles met die opsies wat dit onmiddellik uitgesluit het. Dit was asof die Bybelverhale geheime in my oor gefluister het, wat tannie Daphné nie gehoor het nie.


Tot vandag toe fassineer die Bybelverhale my. Nie enige prediker of outeur se sinne ontsluit dieselfde emosies en lyflike ervarings as die Bybelverhale nie. Net omdat iemand kwansuis meer geleer het oor iets as jyself, beteken nie dat hulle die Bybelverhale gehóór het nie.


Alhoewel tannie Daphné maar net oorvertel het wat die lesse in die boekie vir haar voorgeskryf het, beteken egter nie dat sy nie vanuit die verhale geleef het nie.


Eendag het ek na hulle toe gestap om te gaan kuier. Van daar af is ek huis toe met ʼn wit kokketiel as ʼn maatjie vir my grys enetjie. Tannie Daphné het gesien hoe verstom ek was om die wittes dop te hou. Van dáárdie dag af was ek nie meer te ontsteld oor die skuim om haar mond na die Bybelstorie nie.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page