Klim uit jou boks en groei
- Stephan Joubert
- 2 days ago
- 2 min read
Teks: Eksodus 6:5
'n Amerikaanse vriend vertel een keer vir ons dat ‘n troeteldierwinkel in sy kinderdae lewendige alligators (by ons bekend as krokodille) verkoop het. Hierdie reptiele was netjies in houtbokse verpak met 'n duidelik instruksie dat hulle nooit daaruit verwyder moes word nie. Die rede was eintlik nie om mense teen hierdie reptiele se skerp tande te beskerm nie. Dit was eerder om te keer dat die alligators groter as hulle eie bokse groei. Hulle moes letterlik ingeboks gebly het … of so-iets. Dalk gebeur dieselfde met die meeste van ons. Ons word van kleinsaf in allerlei benoude boksies ingedwing sodat ons nie die status quo moet versteur en dinge ongemaklik vir ander rondom ons moet maak nie.
Dit is net daardie mense wat die moed het om God se groter roeping vir hulle lewe te aanvaar wat uit sulke mensgemaakte boksies groei. Die res eet maar almal rondom hulle se stereotipes en idees vir soetkoek op. Hulle leer nooit om vir hulleself te dink en hulle eie, unieke roeping in die lewe te ontdek nie. Hulle ontdek nie dat God ons roep tot 'n nuwe lewe anderkant sulke mensgemaakte boksies nie. Hy roep ons om saam met 'n Moses van ouds die gevaarlike roete na die Beloofde Land toe aan te durf. Hy nooi ons uit om saam met Paulus op die onbekende roetes te gaan loop om die evangelie uit te leef. Waag dit net! Dan sal ander rondom ons ook uit hulle mensgemaakte boksies begin klim en die Here anderkant hulle eie geriefsones begin navolg. Loop saam met Moses en Paulus op nuwe paaie.
Gebed: Heer, ek is hier om U hand te vat. Ek is hier om op ’n nuwe pad te loop en leef.




Comments