top of page

Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval

  • Helena Smith
  • 6 hours ago
  • 2 min read

As jong hoërskooldogters moes ons gereeld tydens saalbyeenkomste Psalm 16:6 opsê: “Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval. Ja, my erfenis is vir my mooi.” (Lees gerus die pragtige vertaling in Die Boodskap).


Ek het nie ‘n idee gehad wat dit beteken nie -  ek het net in my geestesoog my ma se mooi kristalkrale gesien! Toe ek later in my lewe moeilike tye beleef, het ek soms heeltemal ingedagte vir myself die vers opgesê. Dit het dan vir my hoop gebring, omdat ek geweet het dat ek ‘n erfgenaam van God is.


‘n Ruk gelede het ek ‘n verhaal gelees van ‘n boemelaar wat honger, siek en sonder heenkome by ‘n sendingstasie opgedaag het. Hy is ook later by die sendingstasie oorlede: Brandarm en sonder geliefdes. Hy het nooit geweet van sy oom in Engeland, wat vir hom meer as vier miljoen rand nagelaat het nie. Hy kon dit nooit in ontvangs neem nie, omdat hulle hom nooit kon opspoor nie!


‘n Soortgelyke verhaal word vertel van twee pasgetroudes wat op ‘n bootreis gegaan het. Die kaartjies was duur, toe pak hulle maar vir hulle baie beskuitjies en biltong in sodat hulle nie kos op die boot hoef te koop nie. Hulle het liewer die eetsaal met die luukse, duur kos vermy. Aan die einde van die vyf dae lange bootreis het ‘n ander passasier vir hulle gevra hoekom hulle dan nooit in die eetsaal was nie – die prys van die kaartjies het immers vyf etes per dag ingesluit.


Baie mense gaan deur die lewe sonder om te besef watter rykdom daarin is om Jesus as Verlosser en Saligmaker te ken. Jou meetsnoere het in lieflike plekke  geval, want God het jou só lief, asof jy die enigste persoon op aarde is. Daarom het Hy Jesus gestuur om jou sonde te dra. As verloste is jy ‘n erfgenaam van God en sal jy eendag saam met Hom in die hemel wees.  


Party mense wat reeds vir Jesus gekies het, ploeter egter steeds in sonde voort omdat hulle nie werklik die rykdom van gehoorsaamheid aan Jesus ken nie.  Hulle is tevrede met beskuitjies en biltong, terwyl biefstuk en kaviaar tot hulle beskikking is.  


In Efesiërs 1:3 lees ons: “Laat ons nie ophou om God, die Vader van ons Here Jesus Christus te loof en groot te maak nie. Omdat ons Jesus s’n is, het God ons – wat eintlik niks was nie – baie kom maak. Hy het vir ons al die geestelike dinge gegee wat by God die moeite werd is.”


Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page