Ken Jesus se nuwe wet
- Stephan Joubert
- Jul 7
- 2 min read
“Laat die een wat sonder sonde is die eerste klip gooi.”
Dit is groot woorde hierdie. Jesus sê dit in Johannes 8 wanneer ’n klompie Jode ’n vrou met klippe wil doodgooi. Sy het owerspel gepleeg en volgens Levitikus 20:10 en Deuteronomium 22:22-24 was steniging die voorgeskrewe straf. Hulle wou eers weet wat Jesus sou doen. Maar Hy het aanvanklik niks gesê nie en net met Sy vinger in die sand geskryf. Uiteindelik, toe hulle aanhou, het Jesus die sondeloses uitgedaag om die eerste klip te gooi. Hy het geweet dat die aanklaers altyd die eerste klippe moes gooi. Maar nou verskerp Jesus dit en sê diegene sonder sonde moet die doodsvonnis inlei. Jesus se nuwe verstaan van die wet lyk dus anders. Wag, Sy wét lyk anders. Hy is nie net maar ‘n Wetstoepasser, wat sorg dat Levitikus en Deuteronomium tot op die letter van die wet uitgevoer word nie. Hy is die nuwe Wetgewer. Jesus besluit nou. (Is dit die rede hoekom Paulus eerder praat van die wet van Christus en nie van die wet van Moses nie?)
Jesus se nuwe wet werk van A tot Z met vergifnis. Hy skryf af, eerder as op. Dit beteken dat Hy sondes afskryf en mense se name in die Boek van die Lewe opskryf. Hy vee sondes uit en deel nuwe lewe uit. Soos wat die wind waai oor Jesus se woorde, wat in sand geskryf is, so waai hemelse genade sonde uit die pad. Jesus vergewe. Hy bied ’n nuwe speelveld aan alle begenadigdes, een waar sonde nie meer die spelpatroon is nie. Anderkant vergifnis wag daar altyd ’n nuwe lewe van gehoorsaamheid en dankbaarheid teenoor God.
Comments