Kan God ook swaarkry?
- Stephan Joubert
- 1 hour ago
- 2 min read
Teks: Markus 14:34
“A God who cannot suffer cannot love. A God who cannot love is a dead God.”
So het die beroemde Duitse teoloog, Jürgen Moltman, iewers geskryf. Dit is presies wat met die ou Griekse en Romeinse gode gebeur het. Hulle was onbeweeglik. Hulls was kliphard en yskoud. Hulle het niks vir hulle menslike onderdane gevoel nie. Daarom was hulle morsdood … en is nog steeds! Die lewende God van die Bybel is soveel anders. Lyding en swaarkry is nie aan Hom onbekend nie. Toe Sy eie Kind hier op aarde die Via Dolorosa in ons plek in Jerusalem geloop het, het God pyn geken, sommer baie ook! Sy trane oor Jesus wat besig was om daar aan die kruis dood te gaan het die aarde donker gemaak. Die son het ophou skyn terwyl Jesus daardie Vrydagoggend aan die kruis gehang het. Hoe kan die son in elk geval skyn as die Seun besig is om in ons plek dood te gaan?
God se liefde veroorsaak dat Hy Homself gee. Genade kos Hom net mooi alles. Nee, die Here het nie ’n kaartjie uit die hemel gestuur waarin Hy sê Hy dink aan ons nie. Inteendeel, Jesus het tussen ons kom loop om God se hart vir ons te wys. Hy het in ons plek doodgegaan. Hy het ons pyn op Sy eie skouers gelaai. God se liefde het Hom hierdie swaarkry en lyding gekos. Daarom, omdat Hy medelye met ons pyn en lyding het, kan Hy ons elke keer uithelp as ons in die moeilikheid is.
Gebed: U weet van swaarkry en lyding, Here. In ons plek het U gely. Ons dank U oor en oor vir hierdie groot offer in ons plek.




Comments