top of page

Jy kan nie altyd kry wat jy wil hê nie

  • Stephan Joubert
  • 7 hours ago
  • 2 min read

Teks: Prediker 5:9


Dit is Mick Jagger en die Rolling Stones wat iewers sing: “You can’t always get what you want.” Hulle is heeltemal reg. Nogtans speel te veel mense se lewens af in daardie immer gewilde “behoefte-aangedrewe vallei.” Hulle word gedurig aangedryf deur hulle “wants and needs”, soos wat die Engelse sê. Die probleem met so ’n tipe leefwyse is dat dit ‘n bodemlose put is. Behoefte-aangedrewe mense het nooit genoeg van dit wat hulle voltyds najaag nie. Daar is altyd nog iets wat hulle benodig om regtig gelukkig te wees. Hulle is voltydse “tekortkommers”! 


Prediker 5 waarsku ons teen ’n leefwyse waar genoeg net nooit genoeg is nie. Wanneer geld en alles wat geld kan koop in die sentrum van mense se lewens beland, raak hulle verstrik in ’n pad van selfvernietiging. Dan verander hulle in bekommerde, angstige mense. Selfsugtige behoeftes steel dan hulle rus en vrede. Daarom is jy geseënd voor God as jou lewe nie oorheers word deur die oorvloed, of gebrek aan ons besittings nie. Jy is gelukkig as jy regtig kan sê: “Die Here is my herder; ek kom niks kort nie.” Maar om hierdie roete te vind en te bewandel, moet jy sorg dat jy een van die skape van die Herder is. Jy moet kies om heeltyd agter Hom aan te stap. Christus is regtig die goeie herder. Hy lei jou altyd na groen weivelde, Syne toe. Volg Hom, dan belyn jou eie behoeftes gedurig met dit wat ook vir Hom saakmaak.


Gebed: Ek plaas al my behoeftes neer aan U voete. Belyn dit alles asseblief met wat vir U saakmaak, o Goeie Herder.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page