top of page

Jou lewe maak ‘n verskil

  • Elmarie van der Westhuizen
  • Oct 8
  • 2 min read
“Terwyl ons nog tyd oor het, moet ons elke geleentheid benut om goed te doen aan almal wat op ons pad kom, maar veral aan ons broers en susters in die Here.”  

Gal. 6:10 DB


Gooi 'n klippie in ‘n dam water en klein golfies, konsentriese sirkels, rol uitwaarts vanaf die punt van impak. Vinnig word die sirkels groter en groter totdat dit later nie meer gesien kan word nie. In ons eie lewe het ons woorde en optrede – goed of sleg – hierdie rippeleffek. ‘n Klein daad van vriendelikheid en liefde het die potensiaal om ‘n groot impak te maak en soos ‘n rippeleffek na ander deur te werk. 


God het lankal vir ons goeie werke voorberei om te doen (Ef. 2:10). Hy gee ook vir ons ‘n arsenaal van talente en gawes om hierdie goeie werke te kan doen. As Sy volgelinge gee Hy vir ons Sy hart van liefde en medelye om aan almal goed te doen. Hierdie goeie werke in die vorm van my liefdevolle optrede en woorde kan dan ook soos ‘n rippeleffek na ander om my deurwerk. Ons hoef nie landuit te gaan om goeie werke te gaan doen nie. Die goeie werke is bloot die dinge, wat ons as gelowiges in die gewone verloop van ons daaglikse lewe doen. Ek kan my oë oophou om ‘n verskil te maak daar waar ek is. 


My goeie dade kan ander inspireer om dieselfde te doen en so word ‘n kettingreaksie van liefde begin wat mense se lewe verander. So het Joshua Coombes, ’n haarkapper van Londen, op sy afdae begin om gratis die hare van hawelose mense te sny. Dit was volgens hom ‘n klein gebaar. Met net sy skêr en ’n opvoustoel het hy weer waardigheid en selfvertroue aan mense wat dit nodig gehad het, gegee. Hy het die stories en foto’s op sosiale media geplaas en dit het ander geïnspireer om ook betrokke te raak. Sy stille daad van vriendelikheid het die beweging, #DoSomethingForNothing begin, wat regoor die wêreld mense geïnspireer het om hul tyd en vaardighede aan mense in nood te gee.


Die grootste impak is egter daar waar ek leef – my gesin, werk en omgewing.

Dan kring dit uit na bure, kollegas, vriende en vreemdelinge – die mense wat ek dalk eenmaal in my lewe raakloop. My liefdesdade hoef nie groot of ingewikkeld te wees nie – ‘n vriendelike glimlag, ‘n liefdevolle helpende hand, ‘n trooswoord is genoeg. Hierdie klein dade van liefdevolle omgee kan ‘n verskil aan ander maak. Al weet ‘n mens nie wat die rippeleffek daarvan gaan wees nie, kan ek verseker wees dat wanneer ek Jesus in my optrede vir mense wys, dit ‘n rippeleffek van liefde sal wees.


“What you do makes a difference and you have to decide what kind of difference you want to make.” Jane Goodall

Comments


bottom of page