top of page

Jesus nooi ons nie na ‘n hemelse paleis toe nie, maar na Sy familie huis toe

Stephan Joubert

Wanneer Jesus in die Johannesevangelie gereeld oor sy ewige verhouding met God praat en ons na sy ewige woning toe uitnooi, dan vat Hy ons nie na sy troonkamer toe nie. Nee, dan vat Hy ons na sy Vader se huis toe! Ja, verseker is God ook die Almagtige wat heers oor hemel en aarde. Maar in die Johannesevangelie wil Jesus graag God se Vaderskap beklemtoon. Daarom neem Jesus ons na sy ewige Ouerhuis toe, wat toevallig ook ’n hemelse paleis is. Maar heel eerste is dit Jesus se familie tuiste. Dit is sy huis, en Sy Vader en die Gees S’n. Daar is God heel eerste Vader, dan Koning. Terloops, so van konings en vaders gepraat:

  • Konings is altyd gefokus op mag. Hulle moet hulle onderdane beheer. Goeie vaders is weer gefokus op verhoudings. Hulle verhoudings met hulle familie maak die meeste saak. Konings konsentreer op take wat afgehandel moet word. Goeie vaders konsentreer op mense. Hulle huismense is lewensbelangrik.

  • Konings is sterk, ontoeganklik en baie besig. Goeie vaders is naby, beskikbaar en vol liefde

God is ons Vader. Dit is wie Hy van ewig af is voor enige ander naam of titel wat die Bybel vir Hom gebruik. Hy is die unieke Vader van Jesus. Ook is Hy almal wat in Jesus glo se Vader. Niemand het God nog ooit gesien nie, behalwe Jesus. Hy kom wys en leer vir ons wie God is (Joh. 6:46). Nog voordat Abraham was, IS Jesus van ewigheid af (Joh. 8:58). Hy weet eindeloos meer van God af as wat Abraham of enigiemand anders ooit van Hom geweet het. Hierdie ewige Vader het vir Jesus so lief dat Hy Hom alles gewys het wat Hy moet doen (Joh. 5:19-23). Ook verheerlik Hy Hom as sy unieke Seun hier op aarde (Joh. 8:54).

Om God te ken, moet ons Hom as Vader ken, nie eerstens op al sy ander Bybelse name nie. Nee, dis ook nie genoeg om slegs sy Vaderhart te ken soos wat sommige sê nie. Dit gaan nie net oor die aard van God se hart nie, maar oor sy voltydse Vader-is en sy Vader-wees. God IS Vader; Hy het nie maar net ’n Vaderhart nie. Hy is die Vader van alle genade en waarheid.

LEEFLES: Jesus kies om ons heel eerste in sy Vaderhuis in te nooi. Hy nooi ons nie in die militêre beheersentrum van die heelal, of in die hemelse paleis in as Hy sy woning vir ons wys waar ons ook vir altyd gaan bly nie.


Comments


bottom of page