top of page

Jesus maak ons miljoenêrs

Roedolf Botha
13 minutes ago
2 min read

Een van die mees inspirerende Christen-denkers van die laaste honderd en vyftig jaar is sekerlik GK Chesterton. Onlangs het die BBC ‘n TV-reeks van sy reeks Father Brown-stories vervaardig. Dis werklik goeie kykmateriaal. Father Brown is die plaaslike priester van die katolieke gemeente in ‘n klein dorpie. Hy is baie skerp in sy waarnemingsvermoë en daarom is hy dikwels geneig om misdade en veral moorde te ontrafel en die skurk te aan die kaak te stel, nog voordat die polisie werklik weet wat aan die gang is. Regdeur die storie is daar egter baie goeie geestelike boodskappe wat na die kyker deursyfer sonder om ooit prekerig oor te kom.


In een so ‘n episode loop Father Brown een van sy boemelaarvriende raak. Dié ou boemelaar se skoene is al so gaar geloop dat daar nie veel van die goed oor is nie. Sy een skoen val al byna letterlik van sy voet af. Toe Father Brown dit opmerk en na die armsalige skoen staar, sê die boemelaar eenvoudig: “Don’t worry, Father! Inside I’m a millionare.”


Ek het so gedink aan Jakobus 1:9: “‘n Gelowige wat arm is, moet hom daarin verheug dat hy sy aansien in God het ...” of 2 Korintiërs 8:9: “Julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: hoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kon word.” Paulus praat natuurlik hier van geestelike rykdom. Dit is wat dit is om ‘n Jesus-volgeling te wees: ons identiteit word nie bepaal die armsalige skoene (of duur sneakers!), óf die lappe aan ons lyf, óf die huis waarin ons woon, óf die kar wat ons ry nie. Jesus maak ons reeds ryk met al sy oorvloedige genade en liefde. Ons kan almal soos rykes rondloop, nie met hoogmoed nie, maar met die herinnering dat ons almal eens armsalig en arm was totdat Jesus ons uit die modder opgetel het en in sy koninkryk geplaas het.


In hierdie lewe het sommige van ons baie en ander weer min. Maar as ons Jesus volg is ons ryk mense, erfgename van alles saam met Jesus. 

Dís die boodskap van die Evangelie!

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page