top of page

Integriteit begin in die geheim

Stephan Joubert
2 hours ago
2 min read

Teks: Matteus 6:16


Integriteit is nie gelyk aan die doen van ’n paar vroom godsdienstige dinge nie. In Matteus 6:1-18 sê Jesus dat godsdienstige dade ook sonder integriteit kan gebeur. Dinge soos gebed, vas en hulp aan die armes kan maklik misbruik word om eie eer te verdien. Jesus se volgelinge moet daarom doelbewus kies om nie sulke dinge te doen om deur ander mense raakgesien te word nie. God se goedkeuring maak die heel meeste vir ons saak. Daarom verkies ons om eerder agter die skerms te leef en vir Hom te werk.


Integriteit voor God is nie heel eerste afhanklik van die vraag of ander daarvan bewus is nie. ‘n Mens hoef nie eers ’n groot getuienis te hê, of guns te geniet in die oë van almal voordat jy integriteit het nie. Integriteit gaan heel eerste oor jou liefde vir die Here. Integriteit setel in jou egtheid in die oë van die lewende God. Van hieruit gebeur integriteit in al daardie keuses waarvoor jy gedurig te staan kom waarvan niemand anders weet nie. Ek praat van keuses soos of jy skelmpies sonde op die internet afloer wanneer niemand jou sien nie. Of jy dinge vat wat nie joune is nie. Of jy jok wanneer jy nie uitgevang kan word nie. Of jy ‘n arme help sonder om ‘n bohaai daaroor te maak. Of jy jou vooroordele wegpak teen ander mense wat van jou verskil … Die keuses wat jy in sulke situasies maak, vertel vir die Here én vir jouself of jy integriteit het. 


Gebed: Ek bid vir vandag se porsie integriteit, groot en getroue God. Dit is my doel om vandag en elke ander dag U Naam in die geheim en in die publiek in ere te hou.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page