top of page

How to train you dragon en gebroke verhoudings

  • Roedolf Botha
  • 5 days ago
  • 3 min read

Die laaste paar maande het daar ‘n reproduksie van die 2010 fliek, How to train your dragon, verskyn Die fliek het my geweldig baie herinner aan die belangrikheid van gesonde verhoudings en hoe fundamenteel belangrik veral ouer-kindverhoudings is in die uitleef van ons geloof. Die fliek handel oor ‘n Viking-tiener genaamd Hiccup. Hierdie naam, Hiccup, het in die fliek sterk simboliese betekenis want dis presies wat sy pa van hom gedink het: Hiccup was ‘n hiccup, ‘n fout. Dis nie dat Hiccup se pa nie vir hom lief was nie. Inteendeel. Die pa was egter ‘n tradisionele Viking met sterk Viking-tradisies en sy seun het nie in hierdie tipiese, tradisionele Viking-vorm ingepas nie. Dat Hiccup egter ‘n passievolle Viking was en dat sy Viking-agtergrond en -identiteit vir hom kosbaar was, is duidelik. Hiccup het net nuwer idees gebring en het gevoel dat ‘n paar wysiginge in die gewoontes van die Vikings die stam beter sou dien. Die pa het nie saamgestem nie en het sy seun se opinies as onbelangrik afgemaak.


Trouens, luister is ‘n sterk tema in die prent. Die pa is ook ‘n goeie mens, met liefde in sy hart, maar hy luister nie. Daar heers ‘n generasiegaping. Nuwe idees bots met ou idees. Die fliek wemel van tonele waar Hiccupmet sy pa probeer redeneer, maar sonder enige effek. Op ‘n stadium maak Hiccup so ‘n groot fout in die pa se oë dat dié vir hom sê:


“You’re not my son.”

Gelukkig, soos goeie kinderflieks verloop, het dinge so gebeur dat Hiccup eindelik sy pa se lewe red en homself in dié se oë hernu. Sy pa se hart het ook oopgegaan dat sy seun hom iets kon leer. Naby die einde van die fliek vra omstandighede vir Hiccup om ‘n uiters heldhaftige ding te doen en sy eie mense te hulp te snel. Hy kon egter nie sy moed bymekaar skraap nie. In ‘n gesprek sê sy pa toe vir hom:


“I am proud to call you my son.”

Hiccup het sy pa in die oë gekyk en hom geantwoord met:


“That was all I needed.” Hierdie woorde het hom die dapperheid gegee wat hy nodig gehad het om te doen wat hy moes doen.


Woorde van openheid, ‘n blatante uitdrukking van liefde. Ons almal het dit nodig. Ons almal wil voel dat ons geliefd is, ‘n plek het, ‘n tuiste waar ons waardeer word. Maar vir dit om te gebeur moet daar ‘n werklike openheid jeens mekaar wees. ‘n Gewilligheid om werklik te luister. Dit geld veral vir mense wat die outoriteit en beheer in hulle hande het. Mense wat in ouer posisies is, senior posisies, mense in bestuurposisies of mense in meer informele situasies van gesag. Die Bybel leer ons dat mense met mag die beste effek op ander rondom hulle het wanneer hulle hulle gesag neerlê en regtig na die minderes in hulle lewe luister. Dis mos die voorbeeld wat Jesus vir ons kom stel het.


Die vraag is nou wat ons te doen staan wanneer ons onvolmaakte ouers gehad het wat nie altyd sensitief vir ons behoeftes was nie. Wat as ons ouers nie altyd vir ons gesê het dat hulle vir ons lief is of dat hulle trots op ons is nie. Wat as die kanse nou verspeel is en ons ouers dalk nie meer hier is nie? Wel, dan verseker Dawid ons:


“Al sou my vader en my moeder my verlaat, die Here sal my onder Sy sorg neem.”

Dan kan ons ook soos Hiccup sê:


“That was all I needed.”

Comments


bottom of page