Cast Away en die broosheid van baie gelowiges
- Roedolf Botha
- 1 hour ago
- 3 min read
Die meeste mense onthou Cast Away as ’n oorlewingsverhaal. Chuck Noland, gespeel deur Tom Hanks, is ‘n gesoute en suksesvolle besigheidsman, wat die goeie lewe leef ‘n stywe tempo leef. Na ‘n vliegongeluk beland hy alleen op ‘n klein eilandjie, waar hy vier jaar van sy lewe in eensaamheid deurbring. Aanvanklik is sy broosheid en onbeholpenheid sonder al die luukshede van die moderne samelewing, baie duidelik en voor die hand liggend. Hy sukkel om aan die lewe te bly, sukkel om ‘n vuurtjie aan die brand te kry, sukkel om kos in die hande te kry. Maar die werklike punt in die fliek, wat vir my uitgestaan het, is nie vuur, skuiling of redding nie.
Dit is toe hy die vis gevang het. Ek praat van die soort mens, wat Nolan geword het terwyl hy vir vier jaar op die eiland moes voortbestaan. Na die eerste helfte van die fliek skuif die dit van sy aanvanklike sukkelbestaan die eerste paar weke na hoe hy vier jaar later daar uitsien. En in daardie oomblik kyk ons nie na oorlewing nie, ons let sy transformasie op. Hy het al sy oortollige gewig afgeskud en het ontwikkel in ‘n vernuftige visserman en jagter wat sy prooi met ‘n selfgemaakte “spies” oor ‘n afstand van ‘n paar meter kan raakgooi!
Aan die begin van Cast Away is Chuck Noland doeltreffend in sy werk, maar andersins is hy net oorgewig, gestres en afhanklik. Hy leef in ’n wêreld van onmiddellike aflewering, skedules en stelsels. Dan word alles van hom af weggeruk. Gemak. Veiligheid. En kortpaaie. En stadig - pynlik - verander hy. Daardie oomblik met die vis en die spies wys vir ons die transformasie.
Hy is nie meer broos nie. Hy het geleer deur mislukking, honger, herhaling en blootstelling.
Die eiland het hom nie net getoets nie. Dit het hom in taaiheid opgelei. Nicholas Taleb gebruik die woord antifragile om stelsels en mense te beskryf wat nie bloot stres oorleef nie, maar eintlik juis daardeur verbeter. Brose dinge breek onder druk. Robuuste dinge weerstaan druk. Maar antifragile, antibrose dinge word sterker weens druk. Chuck word nie sterk deur moeilikheid te vermy nie. Hy word sterk deur dit te konfronteer, aan te pas en daarvan te leer. Die eiland gee hom geen keuse nie, maar die resultaat is groei.
Hierdie idee ontstel ons omdat dit ’n diep moderne oortuiging uitdaag:
Dat gemak gelyk is aan vordering. Maar gemak produseer dikwels afhanklikheid. Moeilikheid, wanneer dit eerlik in die oë gekyk word, kan geweldige bekwaamheid produseer.
Cast Away herinner ons dat veerkragtigheid nie ge-download kan word nie -
dit word gesmee, gevorm.
Wanneer ons egter na Jesus kyk dan onthou ons dat hierdie idee nie nuut is nie.
In die boek Jakobus word ons aangesê om beproewings op ’n radikaal ander manier te beskou.
“My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet enduit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.”
Beproewings is nie sinnelose lyding nie, maar iets wat volharding en volwassenheid kan produseer. Die punt is nie dat lyding goed is nie. Die punt is dat lyding vormend kan wees. Jakobus stel voor dat wanneer volharding sy werk mag voltooi, iets heel en volwasse na vore begin kom. Chuck groei nie omdat pyn aangenaam is nie - hy groei omdat pyn vormend is.
Geloof belowe nie ’n stresvrye lewe nie. Dit belowe dat stryd nie vermors hoef te word nie.
God verwyder nie altyd die eiland nie - soms gebruik Hy dit. Die vraag is nie of swaarkry sal kom nie - die vraag is of dit ons sal vorm of bloot littekens sal laat. Die meeste van ons is nie op eilande gestrand nie, maar ons kom te staan voor verlies, onsekerheid, ongemak en ontwrigting.
In daardie oomblikke het ons ’n keuse: Verdoof ons onsself en wag om gered te word?
Of leer, pas en groei ons? Antibroosheid gaan nie daaroor om hard te word nie.
Dit gaan daaroor om groot te word, volwasse te word. Cast Away wys ons ’n man wat alles verloor ... en onverwags iets kry. Krag. Vaardigheid. Karakter. Jakobus herinner ons dat beproewings, wanneer eerlik deurgestaan, iets volledig in ons kan produseer.
Miskien is die vraag nie: “Waarom gebeur dit met my?” nie. Miskien is die beter vraag:
“Wie word ek hierdeur?” Jesus het immers gesê:
“In hierdie wêreld sal julle dit moeilik hê. Maar hou moed, ek het die wêreld klaar oorwin.”




Comments