top of page

Hoe lyk gesonde leierskap in onseker tye?

  • Roedolf Botha
  • 7 days ago
  • 4 min read

Daar is vandag ‘n insinking in die vlak van vertroue in leierskap. So beweer die kulturele navorser, Mark Sayers. Op politieke vlak maak dit nie saak wie se naam jy noem nie -Stamer, Putin, Trump, Ramaphosa. Min mense vertrou die leiers, wat oor hulle aangestel is. Alhoewel dit in die openbare sfeer, soos ook in die politiek, veel erger is, figureer dit byna orals, ook in die privaatsektor. Dis dus ook waar van leierskap in die besigheidsarena en dikwels in die kerkwêreld. Mag, wat hand aan hand met leierskap gaan, word met agterdog bejeën. Meer as dit. Die samelewing is ook bereid om drasties op te tree teen leiers wat onder verdenking is. Dink maar aan die Britse mode-ontwerper wat onlangs gekanselleer is bloot omdat hy Hitler se naam genoem het. Of dink aan die bekende aktrise Gina Carano, wat deur Disney afgedank is, bloot omdat sy ‘n vergelyking tussen gemarginaliseerdes in arm gebiede en die lot van baie Jode tydens die Tweede Wêreldoorlog getref het. Van eens invloedryk tot afgedank binne ‘n kwessie van ‘n paar dae. In baie gevalle loop die emosies op sosiale media so hoog dat ‘n ware kliniese ondersoek nie eers gedoen word nie. Die kansellasie / afdanking is meestal vinnig en finaal.


Sayers wys egter daarop dat hierdie wantroue in leierskap in ‘n vreemde paradoks met nog ‘n realiteit staan en dit is dat mense steeds van leiers verwag om hulle probleme vir hulle op te los, of ten beste leiding te gee. Hierdie vreemde spanning bestaan ook in persoonlike areas van informele leierskap, soos ouerskap. Baie kinders in hulle tienerjare beleef dat hulle nie ‘n sterk, vervullende verhouding met hulle ouers het nie. In sommige gevalle is daar selfs erge wantroue. Tog sou die kinders dit anders wou hê en maak hulle dikwels steeds daarop staat dat Pa en Ma hulle gaan help om hulle issues uit te sorteer. Die gevolgtrekking is dat leierskap uiters kompleks geword het.


Hierdie komplekse leierskap veroorsaak dat daar gereeld ook diep spanning in die innerlike wêreld van ‘n leier is. Die botsende kragte, wat op leierskap inspeel, raak soms byna oorweldigend. Die onseker kontekste waarbinne leiers leiding moet gee, het in vele opsigte ‘n verlammende effek op leierskap en leiers reageer verskillend op hierdie uitdagings.


Sayers noem drie nadelige reaksies van leiers op hierdie komplekse konteks.


  1. Onttrekking. 


Vir sommige leiers is die druk net eenvoudig te veel en die besluit word geneem om eerder te onttrek en die swaar druk van verantwoordelikheid oor te gee aan iemand anders. Dit word al hoe meer gesien. Die druk is vir baie mense in posisies van invloed net te veel en die toekoms te duisteren hulle het geen hoop op moontlike oplossings nie. In sommige gevalle het sekere individue die posisie van leierskap geërf, sonder dat hulle self die bekwaamheid het om effektief te lei. Onttrekking blyk dan vir baie die beste oplossing te wees.


  1. Valse projeksies. 


‘n Tweede reaksie op hierdie kompleksiteit is wanneer die ego’s van leiers oorneem. Baie keer het mense nie die eerlikheid of waagmoed om te erken dat hulle nie die antwoorde het nie en hulle besluit om valse beelde van sukses voor te hou. Hulle kies om negatiewe data eenvoudig positief te interpreteer, of hulle leef in ontkenning dat daar groot probleme is, of hulle in hulle kommunikasie fokus hulle eenvoudig op die areas van die organisasie, waar daar wel sukses is en ignoreer die ander dieper probleme. Hierdie “keuses” is nie altyd bewustelik nie, maar skuil onder die oppervlak van die persoon se bewussyn. 


  1. Kitsnabootsing.


‘n Laaste reaksie is dat sommige leiers desperaat aanlyn na moontlike oplossings vir die uitdagings van leierskap gaan soek en dit klakkeloos in hulle eie konteks naboots. ‘n Ander manier van doen is dathulle eenvoudig kyk wat suksesvolle maatskappye of gemeentes doen en  dit dan na-aap, sonder om werklik diagnosties en kreatief  vanuit hulle eie konteks te dink. Hulle sal hulleself wel soms oortuig dat hulle die strategie het vir hulle eie konteks “aangepas” het, maar in essensie sal dit maar ‘n suiwer nabootsing wees. Dis jammer, aangesien elke konteks se oplossing vir die uitdagings van die dag  die meeste van die tyd sal kom deur ‘n analise van en nadenke oor die omgewing self. Spanne het net geduld en genoeg intensie nodig.


Sayers bied vir leiers vier sinvolle rigtingwysers met die oog op ‘n sinvolle gesprek in hierdie onseker konteks vir leierskap aan. Hierdie vier rigtingwysers dien dan as ‘n gesonder uitweg as die onvolwasse reaksies. Daaroor gaan ons gesels in my volgende nuusbrief. Vir nou is dit slegs belangrik om ‘n bietjie self-diagnose ten opsigte van hierdie drie reaksies te doen. Watter een van die genoemde reaksies staan die grootste kans om jou oor te kom? Miskien is jy reeds daar? Watter van die drie reaksies is waar van jou of jou span? Dalk is ‘n belydenis van pas? Of ‘n gebedskreet in wanhoop? Goeie ondersoekende nadenke oor jou huidige situasie en refleksie daaroor is altyd die begin van goeie dinge.


Dis gewoonlik hier waar die Here Sy grootste werk in leiers begin.



Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page