God se plan is…
- Stephan Joubert
- 3 hours ago
- 2 min read
God dink nie gedurig planne uit vir almal op aarde en wag dan passief dat hulle dit moet ontdek nie. God se planne is nie net ’n klompie mooi hemelse ideale wat in die lug hang totdat mense dit eendag op ‘n reëndag raakloop nie.
Om te spekuleer oor God se plan asof dit ‘n misterie is wat eendag, of selfs eers na-doods aan jou bekend sal wees, is om die Bybel mis te lees. God se wil is geen geheim nie. Sy wil is bekend. Dit word geleef. Dit word daagliks gedoen.
God se plan is nie ‘n raaisel nie. Sy wil het ‘n Naam: Jesus! Sy plan is duidelik en eenvoudig: Oorvloedige lewe tot ‘n ewigheid anderkant die dood. (Joh 6:38-40)
God se wil onderstreep dat niks in hierdie lewe ons ooit kan skei van Sy liefde in Christus nie. (Romeine 8:31-39)
God se plan werk ten goede mee vir elkeen wat Hom liefhet (Romeine 8:28). Nee, hierdie “ten goede” gaan nie oor onsself en ons eie planne nie, dit gaan oor God. Dit gaan daaroor dat Christus se heerlikheid al hoe meer in ons lewe gestalte kry.
God se plan vra dat ons Hom sal verheerlik in alles wat ons doen, dink, eet en praat.” (1 Korintiërs 10:31; Kolossense 3:17, 23).
God se wil is dat ons Sy skepping ook mooi moet oppas. (Genesis 1:28)
God se wil is bo alles dat ons Hom en mekaar van harte liefhet. (Matteus 22:34-40)
God se plan is bekend. Sy plan is duidelik in die Bybel geopenbaar. Dit is doenbaar. Jy en ek moet net aanmeld en inval by God se plan. Dan gebeur Sy wil in ons lewe.




Comments