top of page

God onthou nooit alles oor jou nie

  • Stephan Joubert
  • 12 minutes ago
  • 2 min read

Teks: Psalm 103:12


Wanneer sommige mense te na gekom word, roep hulle graag vir God tot getuie dat Hy die skuldiges hiervoor sal terugkry. Dan hoor jy opmerkings soos: “Die Here slaap nie!” Hulle dink God het ’n langtermyngeheue vir terugkry. Die korrekte Bybelse feit is dat God nie altyd so ’n langtermyngeheue het soos wat hulle dink nie. Dikwels ly Hy aan amnesia. Hy vergeet van Sy kinders se sondes. In Psalm 103:12 hoor ons dat die Here graag Sy kinders se sondes so ver verwyder soos wat die Ooste van die Weste van mekaar af is. In Jesaja 43:25 vertel God weer dat Hy ons opstandigheid vergewe. Maar Hy doen dit nie net omdat ons dit berouvol aan Sy voete neerlê nie. Dit ook, maar Hy doen dit omdat dit is wie Hy is. God is getrou aan Homself. Hy is die God van genade en ontferming. Daarom hou Hy nie vir altyd boek van ons oortredings nie. 


Van ons kant af lê ons nooit rond in ons eie gemors nie. Wanneer ons droogmaak, bely ons dit en laat staan dit. Ons troos is dat die hemel geen stoorplek het vir sulke sondes nie. Daar is nie een of ander hemelse cloud wat sulke goor data oor ons vir ewig stoor nie. Christus het Sy lig oor al die donkertes in ons lewe laat skyn. Daarom onthou God nie meer al ons droogmaakepisodes nie. Hy onthou wel dat ons nuwe mense in Christus is. DÍt onthou Hy vir altyd! 


Gebed: Heer, ek het nie woorde om dankie te sê dat daar geen einde is aan U goedheid en vergifnis nie. Nog ’n keer dankie hiervoor!

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page