top of page

God betaal duur om weg te kyk

  • Stephan Joubert
  • Jul 3
  • 2 min read

Teksgedeelte: Genesis 6:5-6


Jy ken dit ook. Ek praat van daardie kyk! Dit gebeur wanneer iemand jou uitmekaar kyk. Of jou middeldeur kyk. Of jou ’n vuil kyk gee. Of jou aanstaar. Of jou klinies op en af kyk. Die Franse filosoof, Jean Paul Sartre, het gesê sulke kyke bring “a sense of shame” oor jou. Jy weet daardie tipe kyke beoordeel en veroordeel jou. Jy voel dan of jy net die pad wil vat. Daarom is ek my pa, wat my van kleins af geleer het om mense nie uit te kyk nie, steeds dankbaar. Hy het my herinner dat dit God is wat ons uitkyk, veral in die kerk. Ek is vroeg-vroeg geleer om my oë op te pas en om my kyke onder beheer te hou.


Ek is die Here ook dankbaar dat Hyself Sy manier van kyk na ons as Sy kinders verander het. Ja, daar was ’n tyd toe Hy al wat ’n sonde is raakgesien het. Dit het Sy hart gebreek. So vertel Genesis 6:5-6. Gelukkig leer ek in vers 8 ook dat Noag in daardie tyd tussen God en ons gestaan het. God het hom raakgekyk en besluit om nie die wêreld te vernietig nie. Die Nuwe Testament het selfs nog beter nuus: dit vertel God het baie duur betaal om weg te kyk. Jesus se kruis is die prys! Die kruis het God se visie verander. Hy kyk nou permanent hierdeur na ons. Nou is God se kyk sag. Ons benodig Sy soort kyk. Bid hiervoor. Kyk deur die kruis. Dan kyk jy reg.


Gebed: Dankie, Here Jesus, dat ek deur U na die lewe kan kyk. Pas asseblief elke kyk van my aan by Uself.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page