top of page

Geseënd of nie?

  • Marietjie Joubert
  • 2 days ago
  • 2 min read

Dis weer daardie tyd van die jaar. Watter tyd? Ek praat sommer van “silly season”. Dit gebeur egter nie net aan die einde van die jaar nie. Soms gebeur dit sommer so deur die jaar ook. Dit is die “gevleuelde” woorde: “Ek is so geseënd.”


‘n Mens hoor dit baie, wanneer mense sê hoe goed dit gaan, of hoe wonderlik hulle kinders op skool doen, of sommer as hulle ‘n nuwe motor kry, of oor die algemeen wanneer goeie goed gebeur.


Dan is daar gewoonlik die ander kant. My buurman ry met ‘n geroeste motor, wat gereeld gaan staan, maar hy is dolgelukkig met sy skedonk. My vriendin se dogter speel vir die derde span hokkie. Elke Saterdag staan die hele gesin en moedig haar aan om haar beste spel te lewer. Hulle is ‘n gelukkige gesin, gaan Sondae twee keer kerk toe en doen liefdadigheidswerk by die plaaslike kinderhuis. 


My vraag vandag: Is hulle ook geseënd? 


Natuurlik is beide hierdie groepe geseënde kinders van die Here. Daar is egter ‘n groot klemverskuiwing, as ons Matteus 5:3-11 lees. Jesus is besig met die bergrede en sê die volgende aan die skare mense:


“Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is ...”

“Geseënd is die wat treur ...”

“Geseënd is die wat honger en dors na wat reg is ...”

“Geseënd is die wat barmhartig is ...”

“Geseënd is die wat rein van hart is ...”

“Geseënd is die vredemakers ...”

“Geseënd is die wat vervolg word ...”

“Geseënd is julle, wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê.”


Ons lees ook in Efesiërs 1:3 dat ons in Christus geseën is met al die seëninge van die Gees, wat in die hemel is.


Natuurlik seën die Here ons met goeie dinge, wat in ons lewens gebeur, maar ons is ten eerste geseën met die Gawes, wat die Gees vir ons gee. Die grootste van al hierdie is om te weet dat as ek eendag sterwe, ek die ewige lewe sal erf. Dan sal ek vir ewig saam met Christus in die paradys lewe.


Al die mooi dinge, wat met ons gebeur, is natuurlik ‘n seën van die Here. Partykeer voel dit vir my ons moet net ons fokus so ‘n bietjie verskuif en vir die Here meer dankie sê vir die grootste seën van alle tye! Ons is Sy kinders, behoort aan Hom en lewe deur die Gees. Ons gaan saam met Hom die ewige lewe in!


Jubel en juig vandag oor hierdie onvoorwaardelike seën van die Gees, jou verbondenheid aan Christus en die ewige lewe.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page