top of page

Gerieflik afgestomp, of dalk nie!

  • Stephan Joubert
  • 2 days ago
  • 2 min read

Teks: Lukas 10:21


“Comfortably numb.” Ek onthou hierdie titel van een van Pink Floyd se liedjies, maar veral daardie woorde: “The child is grown. The dream is gone. I have become comfortably numb.” Dit gebeur met baie van ons. Ons raak gerieflik afgestomp. Ons raak gewoond aan alles - misdaad, geweld, vermaak, sport, mekaar, kerk, godsdiens … Niks hou ons aandag meer vir lank nie. Ons raak verveeld. Ons benodig gedurig nuwe stimulasie. Ons raak boonop ’n bietjie meer sinies en ’n tikkie meer ontnugter. 


Ons moet keer dat ons afgestomp begin leef en dat al die verwondering uit ons lewe verdamp. Die regte manier om dit te doen is om opnuut te leer om deur Jesus se oë na die lewe en na ander mense rondom ons te kyk. Ons moet daaglikse skatjagters in die skatkamers van die Here word. Dan sal die verwondering stukkie vir stukkie na ons lewe toe terugkeer. Ons sal kleiner voor God word. Ons sal in heilige verwondering na Hom opkyk. ’n Lewe van deernis en omgee sal ook weer ons s’n word. Ons sal begin om mense reg raak te sien en reg te waardeer. Meer as ooit sal ons bereid wees om by elkeen wat ons pad kruis iets te leer. Ons sal weer verras word. O ja, ons sal weer ontdek wat dit is om nuuskierig én leergierig te wees. Dit is immers wat mense doen wat in verwondering voor God en tussen ander leef. Hulle is opgeskerp, nie afgestomp nie. Hulle is altyd comfortably energised deur die Here se goedheid in hulle lewe. 


Gebed: God en Hemelse Vader, U is groot en heilig. Ek kyk op na U. Ek leer by U om ook op te kyk na ander mense. 


Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page