Geloof sonder risiko is nutteloos
- Roedolf Botha
- Aug 26
- 2 min read
As jy wil hê jou lewe moet ‘n blye, sinvolle avontuur wees, moet jy aan risiko’s gewoond raak. Avontuur en absolute veiligheid loop nie hand aan hand nie. Captain Kirk van Star Trek-faam het verstaan wat die rol van risiko in enige sinvolle lewenskeuse is. Tydens byna elke episode kom Kirk voor besluite te staan wat homself en die bemanning van die skip, die Enterprise, aan moontlike risiko’s sou blootstel. Eenmaal toe Scotty, een van die bemanningslede, vir hom sê: “Captain, we risk that the ship be destroyed”, toe antwoord hy eenvoudig, maar kalm:
“Risk is our business.”
Dit beteken nie dat ons onverskillig optree sonder om te dink nie. Onverskilligheid is dwaas. Maar so ook is ‘n lewe sonder risiko. Dis waar van ons geloof ook. Dink maar aan die verhale in die Bybel. Van Noag se roeping, Abraham en later Dawid se lewens, tot by die profete. Geloof en risiko gaan saam. Kyk net na die geweldige risiko’s waaraan Paulus en die Vroeë Kerk hulleself onderwerp het. Soos die hobbits in Lord of the Rings wil baie gelowiges ook nie op die avontuur van die evangelie reageer nie, want in die woorde van ‘n hobbit:
“I hate adventures. They make you late for dinner.”
Ek sien dit so in my eie lewe ook. Ek is so bang dat ek die luukse gemaklikhede wat my lewe oorheers misloop dat ek byna nooit waag om daarvan te op te gee nie. Risiko’s is die besigheid van die kerk en tog leef sommige Christene so veilig binne die grense van hulle eie veiligheid dat hulle nooit enige prys betaal vir hulle navolging van Jesus nie. Dit laat my dink aan wat Sokrates destyds gesê het: “Too little safety kills the body, but too much safety kills the soul.”
Vir ‘n avontuur saam met Jesus het jy geloof nodig. Geloof is die teenvoeter vir vrees en die hart van ‘n dapper avontuur. Geloof en liefde is wat jou oor die grense van jou eie gemak na iemand in nood dryf. Die meeste Christene, wat ek ken, wil so risikovry leef dat hulle nie eintlik geloof nodig het nie. Wanneer jy egter bid vir jou ongelowige buurman en hom oornooi vir ete, waag jy ‘n gesonde risiko. Wanneer jy jou vrees opsy stoot en aan opheffingswerk in ‘n informele nedersetting begin deelneem, dan begin jy die avontuur van die Goeie Nuus van Jesus leef. Wanneer jy dit waag om die persoon met wie jy in konflik is, te nooi vir koffie en die saak vriendelik uit te praat, dan verlaat jy die grense van jou eie gemak. Wanneer jy soms vrywillig kwesbaar voor ander is, jou swakhede ter wille van verhoudings ruiterlik erken, vereis dit risiko. Om nie saam met almal op hol te raak oor politieke of wêreldgebeure nie, maar die Here rustig vir die uitkoms te vertrou, verg geloof.
Wanneer die opgestane Christus vir ons sê: “Volg My”, dan weet ‘n mens nooit wat kan gebeur nie. Al wat jy weet is: Hierdie avontuur gaan nie veilig of vervelig wees nie.




Comments