Geloof is nie so ingewikkeld soos wat jy dink nie
- Stephan Joubert
- 12 minutes ago
- 1 min read
Teks: Matteus 22:39
Die Franse filosoof, Jacques Derrida, het iewers gesê: “If things were simple, word would have gotten round.” Inderdaad! Die lewe is kompleks. Daar is derduisende idees en opinies oor enigiets in die lewe in omloop. Hoe gemaak om koers te hou? Dalk is dit tog nie so moeilik nie. Dalk is dit waar wat ons een wiskundeonderwyser graag gesê het: “Dit is nie so ingewikkeld soos wat julle dink nie.” (O ja, dan het een van my klasmaats graag onderlangs gesê: “Wat gee vir hom die idee dat ons ooit dink?”) In elk geval, ons kan helderheid oor die essensie van die lewe hê. Ek praat van daardie basiese beginsel en opdrag van Matteus 22 dat ons God van harte en ander mense soos onsself moet liefhê.
Ons dans nie op die maat van elke stukkie musiek wat daagliks rondom ons geraas maak nie. Ons weet wie onsself in die Here is. Ons weet ons leef vir Hom. Net om dit elke dag met toewyding en integriteit reg te kry, is oorgenoeg van ’n uitdaging! Daarom sorg ons dat liefde vir die Here bo-aan ons prioriteitslys bly. Om Hom en ander te dien, is ons leefpunt. Nee, dit is nie maar net nog ‘n standpunt nie. Die Here is regtig ons leefpunt. Ons leef Hom en ander mense deernisvol raak. Sy eer en die opbou van ander se geloof is ons daaglikse roete tot ’n eenvoudige, maar effektiewe geloof. Dit is regtig nie so ingewikkeld soos wat ons dalk dink nie!
Gebed: Heer, duisend dankies dat U my lewe daagliks vereenvoudig. Help my om U en ander mense van harte lief te hê.




Comments