Geloof is nie op uitverkoping nie
- Stephan Joubert
- 2 hours ago
- 1 min read
Teks: Lukas 14:27
Geloof is nie op uitverkoping nie. Nooit nie. Daar’s nie gedurig spesiale aanbiedings op die geloofsfront teen afslagpryse beskikbaar nie. Dit is definitief ook nie ons werk om geloofsaanbiedings namens die Here orals aan te bied sodat Hy hoog op mense se gewildheidsleer moet bly nie. God sit eerlikwaar nie en wag op ’n bietjie aandag van ons kant af nie. Sy enigste vriende is nie net ’n paar verdwaalde kerklikes nie. Hier’s die regte feite:
Ons dien God op Sý voorwaardes. Hy is die Here en ons is sy knegte.
Ons volg Christus waar Hy ookal gaan, nooit andersom nie. Hy volg ons nie.
Dit kos altyd ’n prys om te glo, ’n duur prys, want God gaan nie gedurig vir ons gee wat ons wil hê, of alles wat ons van Hom in gebed vra nie. God bedryf nie ’n hemelse eenstopdiens of ’n geestelike hipermark wat op aanvraag in al ons aardse behoeftes moet voorsien nie. Alles behalwe!
Ons moet vooraf die prys wat dit kos om Jesus te volg bereken. Presies dit leer Jesus in Lukas 14. Ons gaan andersins in die moeilikheid beland as ons verwagtings van God verkeerd is. Ons moet op die Here se terme, en slegs op Sý terme, agter Hom aankom. Wanneer ons dÍt doen, beleef ons Sy liefde en trou. Dan hoor ons Sy stem. Dan floreer ons in Sy groen weivelde.
Gebed: Here, om U na te volg is duur. Leer my elke dag wat dit kos. Maak my elke dag bereid om hierdie prys te betaal.




Comments