Gebed verskuif ons Godwaarts
- Stephan Joubert
- Aug 14
- 2 min read
Teks: Markus 14:36
Warren Wiersbe skryf die volgende woorde oor die impak van egte gebed: “Persistence in prayer is not an attempt to change God’s mind, but to get ourselves to the place where He can trust us with the answer.” Met ander woorde, gebed gaan nie daaroor dat ons God moet forseer om iets vir ons te doen nie. Gebed is nie ons aanhoudende pogings om God van opinie te laat verander sodat Hy begin dink soos ons nie. Dit is juis andersom. Gebed verander ons. Gebed belyn onsself met God se wil.
God wil ons graag tot by daardie plek in ons lewe bring waar Hy ons kan vertrou met Sy antwoorde en met Sy teenwoordigheid. Daarom moet ons leer om Jesus se gebed in Getsemane daagliks agterna te bid: “Nogtans nie wat ek wil nie, maar wat U wil, o God!” Gebed, daardie soort waartoe God ons deur Sy Gees wil begelei, laat ons laag buig voor Hom. Dit laat ons tot rus kom in Sy nabyheid. Dit maak onsself kleiner en God groter. Gebed bring vir ons hemelse rus hier op aarde. Om só te bid tot God, is om reg te bid. Om só te bid om Hom te eer, is om die hartklop van gebed aan te leer. Sulke gebed wat ons laat rus in die Here, is gebed wat ons ook begelei om Sy vryheid en oorvloed te beleef. Totdat dit begin gebeur, is gebed eintlik maar net ’n ritueel en ’n plig, wat geen vreugde of vryheid bied nie.
Gebed: Jesus, ek meld aan vir rus aan U voete. Ek wil net by U wees. Minder woorde op my lippe en meer rus in U!




Comments