Ek onderhandel nooit met God nie
- Stephan Joubert
- Oct 10
- 2 min read
Teks: Matteus 5:33
“As U my help, sal ek dit of dat vir U doen …” Baie van ons het dalk al sulke beloftes aan die Here gemaak. Die feit is, ons hoef nie. God het niks van ons nodig nie. Alles wat Hy vir ons doen, doen Hy verniet en onverdiend. Paulus skryf in Efesiërs 2 God is ryk in jammerhartigheid. Daarom onderstreep elke gebedsverhoring en elke deurbraak in ons lewe Sy goedheid. Hy doen dit vir ons, omdat Hy graag wil en nie maar net omdat ons so opreg gebid het nie. Of omdat ons sulke groot beloftes aan Hom maak nie. Selfs ook wanneer ons nie so dapper glo of bid nie, is Hy steeds genadig.
Ons kan nooit met God onderhandel nie. Ons kan Hom nie deur ons plegtige beloftes probeer oorreed om ons te help nie. In die Ou Testament het mense dit plek-plek gedoen, maar ons leef nou aan die anderkant van die kruis. Ons ken Matteus 5:33-37 waar Jesus vir ons leer dat die dae vir sulke beloftes aan God en teenprestasies oor en verby is. Ons ja is goed genoeg vir Hom. Meer as ooit weet ons Hy is die Here van genade. Hy het ons meer lief as ons vir Hom. Hy glo meer in ons as ons in Hom. Hy is meer lojaal teenoor ons as wat ons ooit teenoor Hom kan wees. Hy sal ons help, al het ons niks om in ruil vir Hom aan te bied nie. ’n Opregte dankie aan die Here en ’n lewe wat Hom opreg dien, is oorgenoeg.
Gebed:
Ek staan met leë hande voor U genadetroon. Alles wat ek by U kry, is
genade. Dankie hiervoor, Here!




Comments