top of page

Ek loop saam met ander in my eie skoene

  • Stephan Joubert
  • 2 days ago
  • 2 min read

Ek hoor soms ek weet nie wat is dit om swaar te kry nie, totdat ek een myl in iemand anders se skoene geloop het. Toe probeer ek dit. Maar toe hoor ek dit help nie as ek na een myl daardie skoene uittrek en weer my eie aantrek nie. Toe probeer ek om ‘n tweede myl in daardie skoene aan te durf. Maar dit was steeds nie ver genoeg of goed genoeg nie. 


Dis toe dat ek besef het ek kan nie regtig in ander mense se skoene loop nie. Ek hoef ook nie. Die Here het my nie geroep om dit te doen nie. Hy het my wel geroep om daar te wees vir ander mense in my eie skoene. Van toe af meld ek aan in my eie mondering. Ek doen dit soos wat die Here my aanmekaar geweef het. 


Ek weet ek kan nie ander mense se omstandighede ten volle verstaan nie, maar ek kan wel vir hulle daar wees na die beste van my eie vermoëns. Ek kan nie alles vir almal wees nie. Ek kan nie aan almal se verwagtinge voldoen, of volgens hulle behoeftes leef nie. Ek hoef ook nie. Maar ek kan my eie lewe diensbaar maak met daardie paar talente en vermoëns wat die Here op unieke maniere aan my toevertrou het. Ek kan die lewe saam met ander mense loop soos wat die Here my toegerus het om dit te doen. 


Anders gesê, in my eie skoene kan ek ’n myl of twee saam met ander mense en langs ander mense loop. Nee wag, ek moet! Ek moet daar wees vir ander. Ek moet diensbaar wees met my eie skoene aan my voete. Dan loop ek die lewe reg, soos wat die Here vra.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page