top of page

Ek is nie besig met een of ander sonde-rehabilitasie program nie

  • Stephan Joubert
  • Jun 9
  • 2 min read

Teks: Efesiërs 4:28


In Efesiërs 4:28 skryf Paulus dat gelowiges, wat gesteel het, dadelik daarmee moet ophou. Hulle moet hard werk sodat hulle ook iets het om met die armes te deel. Nee, Paulus sê nie mense, wat steel, moet deel word van ‘n steel-minder-rehabilitasieprogram nie. Sy opdrag is eenvoudig: Stop dit! Staak dit! Daar is géén middelgrond nie. Daar is geen alternatief nie. Daar bestaan nie een of ander godsdienstige kursus, wat Paulus aanbeveel om gelowiges te help om jaarliks minder en minder te steel totdat hulle eendag heeltemal steelvry is nie! 


Ons almal sal vinnig amen sê op Paulus se streng uitkyk wat diefstal betref. Tog is ons baie verdraagsaam met daardie sondes, wat onsself pas. Ons verwag ander mense moet begrip hê vir ons humeur, ons geldgierigheid, ons biddeloosheid en wat nog alles. Boonop is ons eie sondes ook nooit so verkeerd soos hulle s’n nie. Tog is daar nooit enige middelgrond in terme van enige sonde vir enigiemand nie. As ons saam met Paulus van diewe verwag om dadelik op te hou steel, dan moet onsself ook ophou met al ons eie "gunsteling" swakhede en sondes. Die Gees van die Here is nie besig met 'n geleidelike sonde-ontgroeiprogram in ons lewe nie. Hy verwag van ons om onsself as dood vir sonde se invloed oor ons lewe te beskou, soos wat Paulus in Romeine 6 skryf. Ons moet daagliks leef met die wete dat ons vir sonde gesterf het, maar lewend is vir Christus. Ons leef net vir Hom, nie vir sonde nie.


Gebed:

Sonde is nie my baas nie - U is, Heer! U heers oor my lewe. Daarom volg ek U. Sonde is nie my baas nie - U is, Heer! U heers oor my lewe. Daarom volg ek U.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page