top of page

Ek hou aan om reddingstoue uit te gooi

  • Stephan Joubert
  • 2 hours ago
  • 2 min read

Teks: Genesis 4:9


Octavia Butler (1947-2006) skryf iewers: “Drowning people sometimes die fighting their rescuers.” Net so! Party mense wil nooit gehelp word nie. Hulle kies om op hulle eie voort te strompel. Hulle kies om hulle laste alleen te dra. Hulle verseg dat ander mense hulle bystaan. Hulle weier om gered te word. Watter redes hulle ook al aanvoer, jy en ek mag nooit moed opgee met mense wat oop oë aan’t sterf is nie. Nee, ons kan niemand forseer om ons hulp te aanvaar nie, maar ons kan wel in die Heer se naam vir hulle daar wees. Ons kan gedurig op die uitkyk wees vir mense in nood in ons eie familie, of by die werk. Ons kan raaksien as een van hulle skielik die pad byster raak. Ons kan dan ’n helpende hand uitsteek, selfs al word dit weggeklap of  met oop oë geïgnoreer. 


Soms veg sulke drenkelinge terug, maar dit veroorsaak nie dat ons ophou om reddingstoue na hulle toe uit te gooi nie. Omdat die Here ons opgespoor het toe onsself besig was om te verdrink, is ons lewenslank deel van Sy soekgeselskap. Ons gee nie op nie. Ons skryf nie af nie. Ons bid gedurig vir wysheid om dit reg te doen. Ons bid vir ’n fyner aanvoeling vir ander se seer en swaar. Ons sit nie agteroor en doen niks nie. Ons steek ons hande uit en doen wat ons kan. Tydig en ontydig bid ons en help ons. Wie weet, net dalk aanvaar so iemand eendag ons hulp.


Gebed: Ek meld aan om te help. Wys my nog meer hoe om vir ander mense daar te wees. Wys my hoe om op die regte maniere te help.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page