
Wanneer laas het jy gehoor dat mense sê hulle het genoeg? Ek bedoel genoeg geld, genoeg kos, genoeg inkomste, genoeg klere, veiligheid, vriende, tyd, vakansie, geloof, besittings, geleenthede, kennis, vryheid, geluk, gesondheid ...? Elke keer wanneer die vraag van genoeg ter sprake is, het niemand genoeg nie. Mense kort altyd nog iets … net nog ’n bietjie meer geld … net nog ’n bietjie meer tyd … net nog ’n ekstra kans. Net nog iets.
Ons moet Psalm 23 opnuut gaan lees. Ons moet dit van voor af ernstig opneem. Psalm 23 begin met daardie tydlose woorde: “Die Here is my herder.” Die meeste van ons ken hierdie woorde uit die kop, maar amper niemand van ons ken die woorde wat direk hierna volg nie: “Ek kom niks kort nie.” As jy Psalm 23 se eerste vers in geheel lees en as jy regtig glo die Here is jou herder, dan moet dit uitmond in die belydenis dat jou grootste tekorte in die lewe agter die rug is. Dan het jy oorgenoeg hemelse lewe, oorgenoeg hemelse krag, oorgenoeg hemelse genade, oorgenoeg hemelse versorging en oorgenoeg hemelse gawes van God ontvang om jou aardse lewe sinvol te leef. Hoekom beleef baie gelowiges nooit sulke hemelse oorvloed nie? Wel, omdat hulle nie voltydse skape van die Here is nie. Hulle wil eerder geestelike leeus wees. Of geestelike reuse. Hulle wil selfversorgend en onafhanklik wees. Maar Psalm 23 is helder en duidelik: Die Here is die herder van Sy skape. Hy sorg vir brose, feilbare mense, wat gekies het om skape in Sy kraal te wees. Ons moet ophou om sulke selfversekerde gelowiges te wees. Ons is nederige skape van die hemelse Herder. As ons dit besef en dit ook uitleef, sal ons weet ons het altyd meer as genoeg van dit wat regtig saak maak.
Comments