top of page

Dit kon anders gewees het …

  • Stephan Joubert
  • Apr 27
  • 1 min read

Vroegoggend het ek die son dopgehou terwyl ek vir ons koffie gemaak het. Dit was ’n rooi vuurbal wat die wolke in goud getooi het. Spontaan het ’n paar voëls in ons tuin die glorie van die nuwe dag op vrolike maniere aangekondig. Ons lewenslustige honde het vreugdevol rondom ons gedans asof hulle ons tien jaar gelede gesien het. Saam het Vroulief en ek vir die Here dankie gesê vir Sy goedheid wat ons sigbaar en voelbaar begroet het. Ek weet dit kon anders gewees het.


Kort hierna het die realiteite van Gauteng se verkeer my ingewag. Onverwags het ’n taxi vir my plek in die verkeer gemaak. By ’n besige verkeerslig of twee het die gebruiklike toeters en onvriendelike vingersalute gevolg terwyl mense rooi en groen verkeersligte met mekaar verwar het. Tussendeur het ’n leraarsvriend ook gebel en gesê hy moet net vir my vertel hoe die Here nogmaals nie van hulle klein gemeente vergeet het nie. Ek kon die vreugde in sy stem hoor toe hy vertel van hulle kerkdienste wat groei, en van hulle samewerking met ander kerke in die dorp om mense in nood by te staan. Toe begin die werksdag …


Kort voor slaaptyd het ek teruggedink oor hierdie dag. Toe sê ek weer vir die Here dankie. Dit kon anders gewees het. Maar dit was nie. Dit was goed. Dit was van hoek tot wal propvol genade. Wie weet, miskien is môre anders. Maar dan sal God se genade steeds genoeg wees!

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page