Lees Romeine 8:27
Daar gebeur ’n wonderlike ding in die hemel wanneer die Gees die dag vir ons begin pleit. God laat Sy wil dan in ons lewens geskied. Hoe wonderlik om te weet dat die Gees ook by ons is in ons afdae. Die Heilige Gees pleit vir ons totdat ons swaarkry en probleme die wyk neem. Hy hou aan met beitel in ons lewens. Hy hou ook aan om ons saak in die hemel te stel totdat die warm sonstrale van God se genade weer in ons lewe begin skyn. Die Gees hou nooit op om in ons te werk nie. Hy pleit en bid dag en nag vir ons. Ons hartseer en seerkry gaan ook nie by Hom verby nie. Hy vertaal ons swaarkry telkens in hemelse taal en dra dit tot reg voor die hemelse troon. Boonop hou Hy dit daar totdat God iets daaraan doen. Wat ’n wonderlike voorreg om so ’n Bidder aan ons kant te mag hê!
Die Gees sug wanneer Hy bid. Saam met die skepping (vers 22) en gelowiges (vers 23) sug Hy ook, maar Sy sugte kry die regte reaksie. God luister daar en dan wanneer Sy Gees vir ons bid. Dan verander alles. Dan kom die hemel tot stilstand, want die Gees het direkte toegang tot God. God wéét dat die Gees net volgens Sy wil bid. Vra dus die Gees om namens jou met die Vader te praat.
Gebed:
Gees van die Here, U wat die Vader se hart en myne ken, bid asseblief vandag weer vir my. Amen.
Comments